Nuus 11:00
BULLETIN 28 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Mchunu ontken Getuie E se bewerings teen hom voor die Madlanga-kommissie
# OUTA sê Eskom se sonkragdreigemente is onsinnig en onregverdig
# En tennis: Elena Rybakina en Jessica Pegula is deur na die Australiese Ope se halfeindronde
# Die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, ontken die geheime polisie-operateur, bekend as Getuie E, se bewerings teen hom voor die Madlanga-kommissie as verkeerd en onwaar. Getuie E beweer Mchunu het hom oorreed om ‘n vals verklaring ten gunste van die minister af te lê, maar hy het die versoek verwerp. Mchunu sê hy sal op die bewerings reageer wanneer hy weer voor die kommissie verskyn. Hy voeg by sy prokureurs hanteer die saak.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê huiseienaars met sonkragstelsels moenie gedwing word om by Eskom of munisipaliteite te registreer nie. Die organisasie kritiseer onlangse dreigemente van boetes en ontkoppeling as onprakties en onregverdig en sê dit veroorsaak verwarring, angs en vertraging van installering. Stefanie Fick van OUTA waarsku dat gedwonge toepassing onnodige vrees veroorsaak en beloof om elektrisiteitsverbruikers teen administratiewe aanslae te beskerm:
# AfriForum vra die Vrystaatse premier, Maqueen Letsoha-Mathae, om op te tree teen ‘n onwettige koning wat beweer dat hy die Bakholokoe-koninkryk lei. Volgens die organisasie het Seka Moloi plase in Harrismith onwettig beset en daar is verskeie hofsake teen hom. Barend Uys van AfriForum vra die provinsiale regering om die wet te handhaaf, eiendomsregte te beskerm en die integriteit van tradisionele leierskap te beveilig:
Nuus uit die buiteland:
# Die Britse eerste minister, Keir Starmer, sê terwyl China een van die wêreld se grootste ekonomiese spelers is, is ‘n strategiese en betroubare verhouding met hulle in nasionale belang. Hy begin vandag sy driedaagse besoek aan die Oosterse moondheid en wil graag die verhouding met president Xi Jinping bestendig maak na jare se spanning oor veiligheid, Hongkong en menseregteskendings. Starmer sê sy besoek kan beduidende geleenthede vir Britse maatskappye ontsluit:
# Tennis: 2023 se naaswenner, Elena Rybakina, is deur na die Australiese Ope se halfeindronde. Die vyfde-gekeurde Kazak het die wêreld-nommer-twee, Iga Swiatek, verslaan en ʼn stokkie gesteek voor die Pool se strewe na ʼn loopbaan-Grand Slam. Rybakina het in 2023 se eindstryd teen Aryna Sabalenka van Belarus verloor. Sy pak Jessica Pegula vir ʼn plek in Saterdag se eindstryd nadat die Amerikaner haar landgenoot Amanda Anisimova geklop het om haar eerste halfeindronde in Melbourne te haal. In die ander halfeindstryd spook Sabalenka en Elina Svitolina van Oekraïne sake uit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-80-sent teen die dollar, 18-rand-96-sent teen die euro en 21-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-138-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-268-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….