Nuus 11:00
BULLETIN 21 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC stel glo ‘n tweefase-stelsel voor vir die Ampsklagkomitee
# Meer as ses-duisend staatswonings vir regeringsamptenare word ondersoek
# En sokker: Spanje is weer boaan die FIFA-wêreldranglys en Noorweë bereik ‘n nuwe hoogtepunt
# Die ANC het volgens berigte ‘n twee-fase-proses voorgestel vir die parlementêre ampsklagkomitee. Die Wes-Kaapse Hooggeregshof sal hierdie week uitspraak lewer in president Cyril Ramaphosa se dringende aansoek om die komitee se prosedures te staak, hangende ʼn hersiening van die Artikel 89-paneel se verslag. Volgens News24 wil die ANC hê die komitee moet eers bestaande regsbesluite oorweeg wat wetlik bindende of gevolglike bepalings teen Ramaphosa gemaak het. Hy sê die komitee kan dan besluit of hy moet voortgaan met ʼn volskaalse verhoor.
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het ‘n ondersoek gelas na meer as ses-duisend-200 staatshuise wat deur regeringsamptenare bewoon word. Hy het ook ‘n plan versoek om eiendomme te identifiseer wat nie meer nodig is nie en verkoop, herontwikkel of uit die staat se portefeulje verwyder kan word. Macpherson sê die verkoop van onnodige eiendomme sal koste verminder en die regering toelaat om meer hulpbronne aan dienslewering toe te wys:
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, verwelkom die finale Hooggeregshof-bevel aan die Nasionale Vervolgingsgesag se Batebeslagleggingseenheid vir permanente beslaglegging op bates van 326-miljoen-rand van die korrupsie-beskuldigde sakeman, Hangwani Maumela. Dit hou verband met tenderbedrog by die Tembisa-hospitaal en die sluipmoord op die verklikker Babita Deokaran. Woordvoerder Foster Mohale sê dis net die begin van die proses om beslag te lê op die bates van almal wat by die plundering betrokke was:
# Die Verenigde Nasies is bekommerd oor die Irans-gesteunde Houthi-rebelle in Jemen se hernude dreigemente teen Saoedi-Arabië, asook vryheid van beweging in die belangrike Rooi See-skeepsroetes langs die Jemeense kus. ‘n Volledige sluiting kan olievoorraad met sewe-persent verminder. Die Houthi’s het ‘n maritieme embargo teen Saoedi-Arabië ingestel uit vergelding vir die versperring van hawens en lughawens in die noordweste van Jemen. VN-woordvoerder Stéphane Dujarric sê die onmiddellike afskaling van dreigemente is noodsaaklik:
# Sokker: Spanje is weer boaan die mans-wêreldranglys nadat hy Argentinië verslaan het in die eindstryd van die Wêreldbekertoernooi. Argentinië is tweede en Frankryk derde nadat hy teen Engeland verloor het in die uitspeelstryd om derde plek. Engeland en Brasilië voltooi die top-vyf. Marokko is sesde, die beste in Afrika, terwyl Suid-Afrika ses plekke opgeskuif het tot 54ste. Noorweë het met twaalf posisies verbeter tot 19de nadat hy die eerste keer ooit die kwarteindronde gehaal het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 18-rand-77-sent teen die euro en 22-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-881-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-77-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 87-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….