Nuus 11:00
BULLETIN 26 Januarie 11 vm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê Suid-Afrika se ekonomiese herstel bou momentum op
# Kanada se eerste minister sê hulle oorweeg nie ‘n vryhandel-ooreenkoms met China na
# En tennis: Die verdedigende kampioen, Madison Keys, word uitgeskakel in die Australiese Ope
# President Cyril Ramaphosa sê daar is tekens dat die land se gesamentlike pogings om die ekonomie te herbou, reeds vrugte afwerp. Ramaphosa sê In sy weeklikse nuusbrief die ekonomie het vier agtereenvolgende kwartale gegroei, terwyl Suid-Afrika van die Finansiële Aksietaakmag se gryslys verwyder is en die vlakke van armoede en ongelykheid beduidend gedaal het. Hy sê hoewel dié tekens van vordering bemoedigend is, is daar nie tyd om terug te sit nie. Hy sê die land moet die stukrag aangryp sodat die ekonomie in die lang termyn winste kan toon.
# Die regering verwelkom die Wêreld-ekonomiese Forum se besluit dat volgende jaar se Afrikaberaad in Suid-Afrika aangebied word. Die beraad is in 2019 laas in Kaapstad gehou, maar is op die langebaan geskuif sedert die Covid-19-pandemie die volgende jaar. Die regering se waarnemende woordvoerder, Nomonde Mnukwa, sê die aanbieding van die beraad sal die toerismesektor ‘n hupstoot gee, ekonomiese groei ondersteun en werksgeleenthede skep in die gasvryheidsbedryf, asook in vervoer, logistiek en verwante waardekettings:
# Die burgemeester van Tshwane, Nasiphi Moya, het beskuldigings verwerp dat die metro sloer om die omstrede tenderpreneur Edwin Sodi op ‘n swartlys te plaas. Dit hou verband met die skandaal oor die Rooiwal-watersuiweringsaanleg. ‘n Berig in Sunday Times dui daarop dat die metro nie daadwerklik opgetree het nie en onverskillig voorgekom het teenoor vertragings met die optrede. Die burgemeester se woordvoerder, Zintle Mahlati, sê die proses is vertraag deur regs- en prosedurele uitdagings eerder as ‘n gebrek aan dringendheid:
Nuus uit die buiteland:
# Kanada se eerste minister, Mark Carney, sê sy land streef nie na ʼn vryhandelsooreenkoms met China nie. Dit volg op president Donald Trump van Amerika se dreigement om ʼn 100-persent-tarief op Kanadese uitvoere in te stel indien Ottawa ʼn handelsooreenkoms met Beijing sluit. Carney sê volgens die vryhandelsooreenkoms met Amerika en Mexiko, mag hulle nie sonder vooraf kennisgewing ooreenkomste sluit met nie-formele mark-ekonomieë nie:
# Tennis: Die Amerikaner Jessica Pegula het haar landgenoot en verdedigende vroue-enkelspelkampioen, Madison Keys, verslaan om die vierde keer die Australiese Ope se kwarteindronde te haal. Sy speel nou teen nog ʼn Amerikaner, Amanda Anisimova, wat met Wang Xinyu van China afgereken het. In die mansafdeling het Lorenzo Musetti sy eerste kwarteindronde in Melbourne gehaal toe hy Taylor Fritz verslaan het. Die Italianer pak nou die tienmalige kampioen, Novak Djokovic van Serwië, wat onder die laaste agt is nadat die Tsjeg Jakub Mensik weens ʼn maagspierbesering moes onttrek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-3-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-848-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-93-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….