Nuus 11:00
BULLETIN 23 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Steenhuisen sê Suid-Afrika moet eerlik wees oor sy buitelandse beleid van onverbondenheid
# Ses mense word nog vermis na die modderstorting op ‘n Nieu-Seelandse kampterrein
# En tennis: Alcaraz, Medvedev, Sabalenka en die tiener Mboko is deur na die Australiese Ope se vierde ronde
# Die DA-leier John Steenhuisen sê vertroue bestaan dat alle partye in die regering van nasionale eenheid deur konsensus en kompromie ‘n standpunt oor buitelandse beleid sal bereik. Die land se buitelandse beleid het in die kollig beland oor Iran se rol in die onlangse BRICS-vlootoefening in Simonstad waarby China en Rusland ook betrokke was. Steenhuisen sê dis belangrik dat die land eerlik is oor sy standpunt van onverbondenheid sonder enige trou uit die verlede. Hy sê ʼn dringende kabinet-lekgotla moet plaasvind om die rigting van die land se buitelandse beleid te bepaal.
# Die vakbondfederasie Saftu vra die regering om ‘n verslag oor Eskom se beurtkragkrisis in 2007 en 2008 vry te stel. Oudpresident Thabo Mbeki beweer die nutsmaatskappy het die krisis doelbewus veroorsaak deur steenkoolvoorraad te laat afneem. Saftu voer aan werkers en gemeenskappe moes lei onder werksverliese, sake-sluitings en reuse-stygings in elektrisiteitspryse. Woordvoerder Asive Dyani vra die owerhede om te sê wie verantwoordelik was en regstappe te doen teen skuldiges:
# AfriForum se privaat vervolgingseenheid waarsku die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat se gebrek aan optrede ondermyn geregtigheid en stel lewens in gevaar. Byna vier jaar nadat Emmanuel Mbense in Brakpan gemartel en vermoor is, is voor die Madlanga-kommissie onthul dat polisiebeamptes betrokke was en sy liggaam in ‘n dam gegooi is. Barry Bateman van AfriForum sê ondanks herhaalde beloftes aan die gesin is niemand nog aangekeer nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die soektog duur voort om na ses vermiste mense na die modderstorting op ʼn kampterrein by Mount Maunganui op Nieu-Seeland se Noord-eiland. Swaar reën het gelei tot die storting op die gewilde kampplek waar gesinne tydens die skoolvakansie ontspan het. Eerste minister Christopher Luxon sê die reddingsoperasie is steeds uitdagend:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz, het Corentin Moutet van Frankryk verslaan om na die Australiese Ope se vierde ronde deur te dring. Die Spanjaard en die Sweed Björn Borg hou nou die rekord vir die beste Grand Slam-prestasie na 100 wedstryde. Daniil Medvedev van Rusland het met die Hongaar Fabian Marozsan afgereken. In die vroue-afdeling het Aryna Sabalenka van Belarus die Oostenryker Anastasia Potapova verslaan. Die Kanadese tiener Victoria Mboko het die Deen Clara Tauson geklop en die eerste keer deurgedring na ʼn Grand Slam-toernooi se tweede week.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-9-sent teen die dollar, 18-rand-90-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-475-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-959-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….