Nuus 11:00
BULLETIN 21 Januarie 11 am
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering was blykbaar onbewus van Iran se deelname aan die omstrede vlootoefening
# Nog ‘n treinongeluk ruk Spanje
# En tennis: Carlos Alcaraz en Aryna Sabalenka dring deur na die derde ronde van die Australiese Ope
# President Cyril Ramaphosa en die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het volgens berigte eers vroeër die maand in die media kennis geneem van Iran se deelname aan die BRICS-vlootoefening in Valsbaai. News24 berig die besluit om Iran uit te nooi om deel te neem aan die Will for Peace-vlootoefening saam met Suid-Afrika, Rusland en China, is reeds vroeg in November geneem. Die minister van Verdediging, Angie Motshekga, stel ondersoek in waarom Ramaphosa se opdrag dat Iran aan die oefening onttrek, nie nagekom is nie.
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê partylede moet hulle energie op die komende plaaslike verkiesing fokus eerder as om opvolg-debatte te voer. Sy naam asook dié van die miljardêr Patrice Motsepe en adjunkpresident Paul Mashatile word in die gange gehoor as moontlike volgende ANC-leier. Mbalula het aan die SABC gesê die kwessie of hy gaan deelneem of nie, gaan volgende jaar bespreek word:
# Build One South Africa vra ‘n landwye ondersoek na die leerdervervoerstelsel na die dood van 12 leerders terwyl hulle skool toe vervoer is in Vanderbijlpark, Gauteng. Die party wil hê die ondersoek moet bestuurdersopleiding, voertuigveiligheid, oorlaaide voertuie en die afdwing van regulasies hersien. BOSA waarsku teen die uitbreiding van die stelsel sonder dringende hervormings. Woordvoerder Roger Solomons sê onveilige vervoer plaas leerders se lewens in gevaar, en versoek die regering om onmiddellik op te tree:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Treindrywer is dood en 37 mense beseer toe ʼn trein naby Barcelona in Spanje ontspoor het. Volgens die Kataloniese streeksregering se Burgerlike Beskerming het die ongeluk plaasgevind nadat ʼn keerwal ná swaar reën op die spoor omgeval het. Sowat 400-duisend pendelaars sal na verwagting vandag sonder ʼn treindiens gestrand wees. Die voorval het plaasgevind slegs twee dae nadat twee sneltreine naby Adamuz in die suidelike Córdoba-provinsie gebots en 42 lewens geëis het.
# Tennis: Carlos Alcaraz van Spanje het die Duitser Yannick Hanfmann verslaan om deur te dring na die derde ronde van die Australiese Ope en is steeds op koers na ‘n loopbaan-Grand Slam. Die Rus Daniil Medvedev het Quentin Halys van Frankryk geklop. Aryna Sabalenka van Belarus het haar 25ste Grand Slam-oorwinning as wêreld-nommer-een behaal toe sy die Chinese kwalifiseerder Bai Zhuoxuan verslaan het. Die Brit Emma Raducanu het teen die Oostenryker Anastasia Potapova verloor terwyl Coco Gauff van Amerika met die Serwiër Olga Danilovic afgereken het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 21-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-632-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-836-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….