Nuus 11:00
BULLETIN 20 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA bevraagteken minister De Lille se aanstelling van Khomotso Mosehla op SA Toerisme se raad
# Tax Justice SA vra deursigtigheid te midde van die skorsing van lede van die Onafhanklike Tabakvereniging vir Billike Handel
# En tennis: Die Australiese Ope se verdedigende kampioen, Madison Keys, swoeg om die tweede ronde te bereik
# Die DA sê die aanstelling van Khomotso Mosehla op die Suid-Afrikaanse Toerismeraad wek ernstige kommer oor die minister van Toerisme, Patricia de Lille, se verbintenis tot behoorlike regering. Haseena Ismail van die DA sê Mosehla was voorheen ‘n bemagtigingsvennoot van Cash Paymaster Services, wat in 2012 onwettig die maatskaplike toelae-kontrak van die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap ontvang het. Ismail sê die aanstelling volg ná ‘n reeks besluite wat reeds die geloofwaardigheid van SA Toerisme ondermyn het:
# Tax Justice SA eis dat die Onafhanklike Tabakvereniging vir Billike Handel die identiteit bekendmaak van misdadige vervaardigers wat blykbaar Suid-Afrika se ekonomie ondermyn. Die vereniging se voorsitter, Sinenhlanhla Mnguni, het verlede week aangekondig dat hulle onlangs lede geskors het wat nie plaaslike wette nakom nie. Tax Justice SA se stigter, Yusuf Abramjee, sê die geskorste lede was volgens berigte betrokke by belastingontduiking wat met onwettige sigarethandel verband hou:
# Die Gautengse ANC se provinsiale taakspan vra die owerhede om maatreëls te verskerp om leerders se veiligheid te verbeter. Dit volg op gister se noodlottige botsing tussen ‘n vragmotor en ‘n minibustaxi wat leerders vervoer het in Vanderbijlpark, suid van Johannesburg, waarin 14 leerders dood is. Die polisie ondersoek ʼn saak van strafbare manslag. Die ANC sê die betrokke owerhede moet deeglik ondersoek instel na die omstandighede rondom die voorval om aanspreeklikheid te verseker.
Nuus uit die buiteland:
# Die Laerhuis van Australië se Parlement het wette aanvaar om vuurwapens in dié land van eienaars terug te koop en aansoekers vir vuurwapenlisensies se agtergrond strenger na te gaan. Dit volg op verlede maand se aanval op Bondi-strand tydens ‘n Joodse fees waarin 15 mense dood is. Die terugkoopplan geld vir oortollige wapens en wapens wat pas onwettig verklaar is. Die Wet op die Bekamping van Jodehaat, Haat en Ekstremisme is ook aanvaar. Die minister van Binnelandse Sake, Tony Burke, sê hulle gaan streng teen anti-semitisme optree.
# Tennis: Die verdedigende vroue-enkelspelkampioen, Madison Keys van Amerika, het hard geswoeg om Oleksandra Oliynykova van Oekraïne te klop in die eerste ronde van die Australiese Ope. Die gewese Amerikaanse Ope-kampioen, Sloane Stephens, is in die eerste ronde uitgeskakel toe sy teen die Tsjeg Karolina Pliskova verloor het. Janice Tjen van Indonesië het met die 22ste-gekeurde Kanadees Leylah Fernandez afgereken. In die mansafdeling het die vyfde-gekeurde Lorenzo Musetti van Italië deurgedring nadat die Belg Raphael Collignon in die vierde stel onttrek het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-883-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-713-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….