Nuus 11:00
BULLETIN 19 Januarie 11 vm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa loof 2025 se matriekuitslae, maar erken uitdagings bestaan steeds
# Die dodetal in die oorstromings in Limpopo styg tot 18
# En tennis: Medvedev en Gauff is op die wenpad in die Australiese Ope
# President Cyril Ramaphosa sê die besondere prestasie van 2025 se matriekklas toon die waarde van die regering se belegging in onderwys. Meer as 650-duisend leerders het die eksamen geslaag met ‘n slaagsyfer van 88-persent. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief ondanks die goeie uitslae is daar steeds uitdagings. Hy is bekommerd omdat meer kinders nie hul skoolopleiding voltooi nie, en oor die afname in prestasie in vakke soos wiskunde. Ramaphosa sê die regering belê nou meer in die grondslagfase.
# Amnestie Internasionaal Suid-Afrika sê die regering moet dringend ‘n menseregte-gerigte benadering tot klimaatsverandering en uiterste weersomstandighede instel. Dit volg terwyl verskeie provinsies deur dodelike oorstromings en veldbrande geteister word, spesifiek in Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap. Genevieve Quintal van Amnestie internasionaal sê ramprisiko-vermindering moet ten volle in stedelike beplanningsprosesse geïntegreer word om mense teen die verwoestende uitwerking van oorstromings te beskerm:
Limpopo se Departement van Samewerkende Regering, Menslike Nedersettings en Tradisionele Sake het intussen bevestig die dodetal ná verwoestende oorstromings het tot 18 gestyg. Minstens vyf mense word vermis nadat hulle deur sterk rivierstrome meegesleur is. Die departement se woordvoerder, Tsakani Baloyi, sê toestande bly gevaarlik en riviervlakke styg steeds na dae lange swaar reën:
Nuus uit die buiteland:
# President Gabriel Boric van Chili het ‘n ramptoestand in die Ñuble- en die Biobío-streek afgekondig ná veldbrande die lewens van minstens 18 mense geëis het. Die brande het tot dusver agt-duisend hektaar verwoes en 50-duisend mense moes die twee gebiede ontruim. Meer as ʼn duisend huise is net in Biobio geraak. Boric sê onder ʼn ramptoestand mag die Weermag ontplooi word om te help terwyl die dodetal na verwagting sal styg.
# Tennis: Die driemalige naaswenner van die Australiese Ope, Daniil Medvedev van Rusland, is deur na die tweede ronde in Melbourne nadat hy die Nederlander, Jesper de Jong, geklop het. Die sewende-gekeurde Felix Auger-Aliassime van Kanada moes in sy eersteronde-wedstryd weens krampe tou opgooi. Die plaaslike gunsteling, Alex de Minaur, het die Amerikaner Mackenzie McDonald gemaklik afgeransel. In die vroue-afdeling het die Amerikaner Coco Gauff haar strewe na ʼn eerste Australiese Ope-titel goed afgeskop met ʼn sege oor Kamilla Rakhimova van Oesbekistan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 21-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-566-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-678-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….