Nuus 11:00
BULLETIN 18 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Mbeki beweer die Eskom-krisis was opsetlike politieke inmenging
# ’n Ekurhuleni-burgemeesterskomiteelid word vermis nadat sy voertuig in Mosambiek deur water meegesleur word
# En, brandbestryders maak vordering met die brand in die Franschhoek-berge
# Oudpresident Thabo Mbeki sê die Eskom-kragkrisis van 2008 was opsetlike politieke inmenging en nie meganies nie. Mbeki het in Bloemfontein gesê Eskom is gedwing om ‘n noodtoestand te verklaar en steenkool sonder tenderprosesse aan te koop, wat pryse oornag verdubbel het. Hy haal aan uit ʼn 2017-verslag deur die Spesiale Ondersoekeenheid wat bevind het die kragonderbrekings in Januarie 2008 is intern veroorsaak en verwerp bewerings van kaderontplooiing as die basiese oorsaak:
# Die Stad Ekurhuleni het bevestig die burgemeesterskomiteelid vir Paaie en Vervoerbestuur, Andile Mngwevu, word vermis nadat die voertuig waarin hy gereis het in Chokwé, Mosambiek, deur vloedwater meegesleur is. Die stad se woordvoerder Phakamile Mbengashe sê ʼn Suid-Afrikaanse reddingspan wat in die gebied ontplooi is, het kontak gemaak met een van die voertuig se vyf insittendes. Die soektog en kontroleringspogings duur voort en owerhede werk nou saam met Mosambiek se nooddienste. Dis nie bekend waar die ander insittendes hulle bevind en wat hul status is nie:
# Die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit sê hulle maak goeie vordering om die brand te beheer, wat gistermiddag by La Motte in Franschhoek uitgebreek het. Die brandlyn strek teen die berg op tot by die Drie Strome-gebied. Die koeler nagtemperatuur het die bestryding makliker gemaak, maar die munisipaliteit se woordvoerder, Anesca Roodt, waarsku die hoë temperature wat vir vandag voorspel word, kan toestande vererger:
# Indonesiese owerhede het die wrak van ʼn waarnemingsvliegtuig opgespoor wat in Suid-Sulawesi naby ʼn misbedekte berg vermis geraak het, maar soek nog die 11 mense wat aan boord was. Die vliegtuig het gister kontak met lugbeheer verloor. Daar was agt bemanningslede en drie passasiers in die vliegtuig wat deur Indonesië se ministerie vir Mariene-sake en Visserye gehuur is om visserye dop te hou. Die passasiers was personeellede van die ministerie. Een-duisend-200 reddingspersoneel is ontplooi om die vermiste persone te soek.
# Motorsport: Nasser Al Attiyah van Katar en die Belg, Fabian Lurquin, in hul Dacia Sandrider het na twee weke en agt-duisend kilometer die motor-afdeling van die Dakar-tydren ingepalm. Al Attiyah het in 2011 vir Volkswagen, in 2015 vir Mini en in 2019, 2022 en 2024 met ʼn Toyota gewen. Dis die voormalige vlieënier, Lurquin, se eerste Dakar-motorsege. Die Argentyn, Luciano Benavides, het die motorfietsafdeling met twee sekondes gewen, die kleinste tydverskil in die tydren se geskiedenis. Die KTM-ryer het gewen nadat die oornag-voorloper, Ricky Brabec van Amerika, sewe kilometer van die eindpunt weens ʼn navigasiefout verdwaal het.
# En tennis: Die topgekeurde Carlos Alcaraz sal van vandag ‘n poging aanwend om die Australiese Ope-titel in te palm as deel van sy mikpunt van ‘n loopbaan-Grand Slam. Die Australiese titel is die enigste wat ontbreek in sy major-versameling. Alcaraz sal teen die Australiese speler Adam Walton in die aandwedstryd op die Rod Laver Arena te staan kom. Indien hy die titel wen, sluit by Andre Agassi, Roger Federer, Rafael Nadal, Novak Djokovic en Rod Laver aan as slegs die sesde man om al vier Grand Slam titels te wen en ook die jongste wees om dit te doen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….