Nuus 11:00
BULLETIN 17 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# COSATU verwelkom die skuldigbevinding van Steinhoff se Iwan Schelbert
# Paul Mashatile dring aan op steun vir oorlogsveterane
# En, Donald Trump dreig met nuwe tariewe teen lande wat nie sy Groenland-oorname steun nie
# COSATU het die skuldigbevinding van die voormalige Steinhoff-direkteur, Iwan Schelbert, deur die Pretoriase Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof verwelkom. Schelbert het skuldig gepleit op bedrog en ingestem om te getuig, waarna hy vyf jaar tronkstraf opgelê is. Die federasie sê dit is ‘n langverwagte oorwinning vir werkers en pensioenarisse wat 24-miljard-rand in die Steinhoff-skandaal verloor het. Matthew Parks van COSATU het egter die Nasionale Vervolgingsgesag gekritiseer omdat dit agt jaar geneem het:
# Die polisie se misdaadintelligensie-hoof luitenant-generaal Dumisani Khumalo, sê die herstel van die publiek se vertroue in die polisie vereis die verwydering van korrupte beamptes en sterker, doeltreffende toesig. In getuienis voor die parlementêre ad hoc-komitee oor korrupsie en politieke inmenging in die regstelsel, het Khumalo erken die polisie is verlam. Hy sê daar is ‘n behoefte aan voortdurende, eenvormige suiwering van misdadige elemente en toesig om integriteit, rigting en verantwoordbaarheid te verseker:
# Die adjunkpresident van die ANC, Paul Mashatile het gewaarsku teen die verwaarlosing van oorlogsveterane en gemaan dit stel Suid-Afrika se demokrasie in gevaar. Mashatile het tydens ‘n konferense va die uMkhonto weSizwe Liberation War Veterans in Bloemfontein gesê veterane is die argitekte van die toekoms. Hy het ‘n beroep gedoen op beter gesondheidsorg, behuising en ekonomiese geleenthede vir veterane. Intussen het die veterane-sameroeper, Dan Hatto, pogings uitgelig om die ANC-SAKP-alliansie te versterk ten spyte van die SAKP se plan om onafhanklik aan die plaaslikeregeringsverkiesing deel te neem. Hy het gevra vir verenigde leierskap om diensleweringsuitdagings aan te spreek.
# Eerste Nasionale Bank gaan 3,7-miljoen-rand skenk om gemeenskappe te ondersteun wat deur die oorstromings in Limpopo en Mpumalanga geraak is. Die fondse sal deur Gift of the Givers versprei word om gesinne en personeel wat deur die ramp geraak word, te help. Die skenking sal die vinnige ontplooiing van noodleniging moontlik maak, insluitend komberse, matrasse, warm maaltye, higiënepakke en babasorgbenodigdhede vir geaffekteerde huishoudings. ‘n Gedeelte van die befondsing sal gebruik om SANParks-personeel te help wat voorgaan om nasionale parke veilig en operasioneel te hou tydens die krisis.
# President Donald Trump het gister gedreig om tariewe in te stel teen nasies wat nie saamstem met sy ambisies om Groenland te annekseer nie. Die selfregerende gebied word deur Denemarke beheer. Trump het nie gesê watter lande in sy viser is nie, of watter gesag hy sou inroep om tariewe te gebruik in die nastrewing van sy doelwit nie. Ander lande staan saam met Denemarke en Groenland sy ambisies teen, en baie in die VSA het twyfel uitgespreek oor so ‘n stap. Trump hou vol dat die yl-bevolkte, hulpbronryke gebied noodsaaklik is vir Amerikaanse veiligheid.
# En tennis: Die jaar se eerste Grand Slam-toernooi, die Australiese Ope in Melbourne begin vroeg môreoggend Suid-Afrikaanse tyd. Spelers om op die eerste dag dop te hou is die top-gekeurde Spanjaard Carlos Alcaraz, wat teen die plaaslike speler Adam Walton speel, asook die derde gekeurde Duitser, Alexander Zverev, die Brit Cameron Norrie en die Italianer Flavio Cobolli. Onder die vroue begin die wêreldnommer-een, Aryna Sabalenka die verdediging van haar titel teen Tiantso Rajonah van Frankryk, terwyl haar landgenoot Aliaksandra Sasnovich, teen die sewende gekeurde Jasmine Paolini van Italië te staan kom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….