Nuus 11:00
BULLETIN 13 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Iran gaan volgens berigte onttrek aan die omstrede BRICS-vlootoefening in Simonstad
# RISE Mzansi vra ‘n groter belegging in wiskunde en fisiese wetenskappe
# En rugby: ’n Sterk Springbok-vrouesewespan is gekies vir die Dubaise kwalifiseertoernooi
# Iran is volgens berigte versoek om hom aan die BRICS-vlootoefeninge langs die Suid-Afrikaanse kus te onttrek om ‘n verergering van die diplomatieke spanning met Amerika te voorkom. Twee Iranse skepe het verlede week in die Vlootbasis Simonstad in Kaapstad aangekom. Oorlogskepe van China, die Verenigde Arabiese Emirate en Rusland neem ook deel aan die oefening. Suid-Afrika het skynbaar gevra dat Iran moet onttrek vanweë die regering se kommer dat sy betrekkinge met Amerika verder kan versleg te midde van voortgesette handelsgesprekke tussen die twee lande.
# RISE Mzansi sê die onderwysstelsel moet in wiskunde en wetenskap belê om leerders toekoms-veerkragtig te maak. Die party glo hervorming van basiese onderwys is ‘n kritieke faktor vir inklusiewe ekonomiese roei. Die wiskunde-slaagsyfer in 2025 se matriek-eksamen het van 69- tot 64-persent gedaal, terwyl die punt vir fisiese wetenskappe effens gestyg het tot 77-persent. Makashule Gana van RISE Mzansi sê Suid-Afrika moet voorkeur gee aan wetenskap-, tegnologie-, ingenieurswese- en wiskunde-onderwys:
Die GOOD-party het die matriekklas van 2025 gelukgewens met hul slaagsyfer van 88-persent onder moeilike omstandighede en gesê die leerders het veerkragtigheid getoon. Meer as 700-duisend leerders het die eksamen afgelê, waarvan 656-duisend geslaag het. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die gehalte van onderwys wat leerders ontvang, is steeds ‘n groot bron van kommer:
# Die landbou-organisasie Saai sê die bek-en-klouseer-uitbreking moet tot ‘n nasionale ramp verklaar word om boere te beskerm en die inperking van die uitbreking te versnel. Hy meen ‘n verklaring sal lei tot vinniger toegang tot hulpbronne, personeel, verkrygingsprosesse en strenger bewegingsbeheer, wat die belangrikste instrumente is om die verspreiding van die siekte te vertraag en te beperk. Saai moedig die regering aan om beslissend op te tree en die voortbestaan van gesinsboere wat die ruggraat van landelike gemeenskappe vorm, asook voedselsekerheid ‘n sentrale deel van die nasionale reaksie te maak.
# Rugby: Die Springbok-vrouesewespan se afrigter, Cecil Afrika, het ‘n sterk groep van 12 gekies vir die naweek se bepalende toernooi in die Wêreldrugby-uitdaagreeks in Dubai. Suid-Afrika is in Groep A saam met Thailand, die Tsjeggiese Republiek en Mexiko, en moet die eindstryd haal om na Sewes 2 te vorder. Dis hul volgende stap om weer die Wêreldreeks te bereik. Nadine Roos is kaptein, met haar spanmaats van die 15-speler-formaat, Zintle Mpupha, Bryhandré Dolf en Ayanda Malinga, ook ingesluit. Afrika sê die spelers weet wat op die spel is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 22-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-963-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-584-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….