Nuus 11:00
BULLETIN 10 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC se 8 Januarie-verklaring plaas kaderontplooiing in die kollig
# TLU SA is bekommerd oor die gebrek aan verantwoordelikheid om bek-en-klouseer te bekamp
# En die Overstrand Brand- en Reddingsdiens bly op hoë gereedheidsgrondslag
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa gaan na verwagting vandag die party se verkiesingstrategie vir 2026 uiteensit tydens die 8 Januarie-verklaring by die Maruleng-stadion in die Noordwes-provinsie. Opposisiepartye eis egter antwoorde oor kaderontplooiing. Die DA sê hy is bekommerd oor die toename in polities gemotiveerde aanstellings in ANC-beheerde munisipaliteite, veral in Limpopo. DA-woordvoerder Nico Pienaar doen ‘n beroep op die minister van Samewerkende Regering, Velenkosini Hlabisa, om beweerde politieke vooroordeel te ondersoek wat veroorsaak dat kaderontplooiing meriete-gebaseerde regering ondermyn en bydra tot munisipale ineenstorting.
# Die landbou-organisasie, TLU SA, is bekommerd oor die gebrek aan verantwoordelikheid van die regering om die toename in bek-en-klouseer-uitbrekings in die land te bekamp. Die voorvalle word aanhoudend in Gauteng, KwaZulu-Natal, Noordwes, Mpumalanga en die Vrystaat aangemeld, weens veebewegings, swak biosekuriteit en ‘n gebrek aan streng beheermaatreëls. Bennie Van Zyl van TLU SA sê die regering en die Departement van Landbou moet sterker regulasies instel om die voortslepende krisis te bestuur:
# Die Overstrand Munisipaliteit se Brand- en Reddingsdienste in die Wes-Kaap bly op hoë gereedheidsgrondslag aangesien die veldbrande nog nie geblus is nie. Die munisipale bestuurder, Dean O’Neill, sê die R-43 is tussen Stanford en De Kelders is gesluit terwyl die brande oor dele van die distrik versprei. Motoriste word versoek om hul hoofligte aan te skakel en spoed te verminder wanneer hulle die Grootbos- en Papiesvlei-grondpad-ompad gebruik. Hy sê sigbaarheid is laag weens stof en ongelyke oppervlaktes op verskeie dele van die pad.
Die Mosselbaai-munisipaliteit in die Wes-Kaap sê intussen die veldbrande wat in Aalwyndal, Island View, Vakansieplaas en langs die N2 gewoed het, is onder beheer. Die munisipaliteit se woordvoerder, Cornelle Carstens-Johnston, sê brandweerspanne het deur die nag gewerk. Sy sê die Gesamentlike Operasiesentrum, wat die multi-agentskap brandbestrydingsoperasies koördineer, is gister gesluit, maar die opruimingsoperasies ter plaatse het voortgegaan en brandpunte is hanteer:
# Die Departement van Water en Sanitasie is bekommerd oor die toenemende wateruitdagings in die Knysna Munisipaliteit en ander kusdorpe in die Tuinroete-distrik in die Wes-Kaap. Knysna se watervoorsieningstelsel het ‘n kritieke stadium bereik. Die woordvoerder van die departement, Mandla Mathebula, sê die Akkerkloofdam, die munisipaliteit se primêre stoorfasiliteit, is tans ongeveer 19-persent vol, wat neerkom op ‘n geraamde 13 dae se bruikbare water teen huidige verbruiksvlakke:
# En sokker: Die Ghanese speler Antoine Semenyo het hom vir die volgende vyf en ‘n half seisoene tot Manchester City verbind. Hy verlaat Bournemouth, waar hy hierdie seisoen tien Premierliga-doele aangeteken het. City het na bewering 1,4-miljard-rand vir die 26-jarige se dienste betaal. Semenyo is in Engeland gebore, maar het sedert 2022 in 32 wedstryde vir Ghana gespeel. Liverpool, Manchester United en Tottenham het ook in hom belang gestel. City is tans ses punte agter Arsenal wat bo-aan die Premierliga-punteleer is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….