Nuus 11:00
BULLETIN 3 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Daar is onbevestigde berigte van aanvalle in Caracas, Venezuela
# Beitbrug teken die laagste onderskepping van onwettige oorgrens-indringers aan
# En nuwe EU-koolstoftariewe gaan Suid-Afrika se staalbedryf tref
# Vliegtuie en harde slae kon gehoor word, en ‘n rookkolom was vroeg vanoggend in Caracas sigbaar. Volgens Reuters is die krag af in die suide van die Venezolaanse hoofstad, naby ‘n groot militêre basis. Die oorsaak en presiese ligging van die voorvalle was nie onmiddellik duidelik nie, met onbevestigde video’s wat verskeie ontploffings regoor Caracas wys. Die Amerikaanse president Donald Trump het herhaaldelik landoperasies in Venezuela belowe. Hy het ‘n “blokkade” van Venezolaanse olie aangekondig, sanksies uitgebrei en meer as twee dosyn aanvalle op vaartuie uitgevoer wat na bewering betrokke is by dwelmhandel in die streek.
# Die Beitbrug-grenspos het sy laagste onderskeppingsyfers aangeteken, met slegs 439 mense wat tot dusver voorgekeer is. Die kommissaris van die Grensbestuursowerheid, Michael Masiapato, sê 319 amptenare is by die grenspos ontplooi. Hy skryf die afname toe aan verskerpte operasies, hommeltuig-monitering en lyfkameras. Hy sê baie onwettige indringers vermy nou Beitbrug in Limpopo en skuif na ander grensgebiede waar ontplooiings ook versterk is:
# Suid-Afrikaanse staal- en aluminiumuitvoerders gaan finansiële druk beleef met die Europese Unie wat hierdie maand sy koolstofgrens-aanpassingsmeganisme uitrol. Invoerders moet as handelaars vir die meganisme registreer en sertifikate koop wat koolstofvrystellings vir ingevoerde goedere dek. Die koste word gekoppel aan die EU-koolstofmark. Ten spyte van veldtogte om vrystelling te verkry, bly Suid-Afrika blootgestel. Die nuwe tariewe kan miljarde in voldoeningskoste byvoeg, werkverliese vererger en die druk van bestaande Amerikaanse tariewe op die reeds sukkelende plaaslike staalsektor verhoog.
# Die Wes-Kaapse Gesondheidsdepartement sê nood-, hospitaal-, mediese en forensiese dienste is oor die feestyd aan uiterste druk blootgestel. Sedert 2 Desember het hospitale meer as 74-duisend opnames aangeteken, insluitend meer as 18-duisend traumagevalle en 52-duisend mediese gevalle. Noodsentrums het 254 skietslagoffers, meer as drieduisend steekvoorvalle en byna vyfduisend aanrandings behandel. Motorvoertuig- en voetgangerongelukke, selfbesering, seksuele oortredings en kindermishandeling het die druk op gesondheidsdienste verder verhoog.
# Die polisie in Embalenhle, in die Gert Sibande-distrik in Mpumalanga, ondersoek twee aanklagte van moord na ‘n skietery in ‘n taverne in Uitbreiding 15 op Nuwejaarsdag. Twee mans is dood toe ‘n gewapende verdagte na bewering binne die taverne losgebrand en van die toneel gevlug het. Polisiewoordvoerder Donald Mdhluli sê ‘n soektog en ‘n 72-uur-plan is in werking gestel:
# En rugby: Die Stormers het ‘n hupstoot gekry met die terugkeer van die beseerde Springbok-sterre Damian Willemse en Sacha Feinberg-Mngomezulu vir die Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting teen die Bulle op die Kaapstad-stadion. Willemse sal die 100ste keer in ‘n Stormers-trui uitdraf in die eerste wedstryd van 2026, wat vanmiddag om 6-uur afskop. Die Stormers se direkteur van Rugby, John Dobson, sê sy span sien uit na ‘n spesiale geleentheid. Hy sê die span weet dat hulle op hul beste sal moet wees dwarsdeur die wedstryd om ‘n goeie oorwinning te behaal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….