Nuus 11:00
BULLETIN 23 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Accountability Now se direkteur sê kiesers het ‘n geleentheid om aanspreeklikheid te eis
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê 2024 gaan ’n bepalende jaar wees vir wêreldgesondheid
# En tennis: Coco Gauff dring die eerste keer deur na die halfeindronde van die Australiese Ope
# Die direkteur van Accountability Now, Paul Hoffman, sê die komende verkiesing is ‘n geleentheid om aanspreeklikheid van die regering te eis en ‘n kans om diegene te vervang wat swak regeer het. Altesaam 350 politieke partye het vir die verkiesing geregistreer. Hoffman sê Suid-Afrikaners sal hul kruisies trek op grond van faktore soos beurtkrag, gebrekkige waterinfrastruktuur, swak gesondheidsdienste, korrupsie, misdaad, ‘n mank regstelsel en swak onderwys. Hy sê alle stemgeregtigdes móét stem omdat hulle ten minste self baat sal vind daarby, indien om geen ander rede nie.
Intussen wil die Onafhanklike Verkiesingskommissie kieserregistrasie verbeter tydens die laaste registrasienaweek van 3 en 4 Februarie. November se eerste naweek het ‘n miljoen nuwe registrasies opgelewer, wat die totaal op net meer as 26-miljoen te staan gebring het uit 42,3-miljoen stemgeregtigdes. Hoofkiesbeampte Sy Mamabolo het die versekering gegee alle voorbereidings is getref om uitdagings die hoof te bied, insluitend betogings wat sommige kieslokale ontwrig het. Die OVK gaan ook gevangenisse besoek en aanlyn registrasies uitbrei vir Suid-Afrikaners in die buiteland. Hy sal nader aan die naweek hulle gereedheid aankondig.
# Die polisie sê nog drie kinderseksoortreders wat aanlyn na slagoffers gesoek het, is in Worcester, Kraaifontein en Mitchells Plain in die Wes-Kaap in hegtenis geneem. Die Ondersoekeenheid vir Reeks- en Elektroniese Misdaad en Amerika se Departement van Binnelandse Veiligheid het ‘n gesamentlike operasie uitgevoer. Nóg vier mense is verlede jaar in Gauteng en KwaZulu-Natal vasgetrek. ‘n Polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê ‘n 53-jarige man van Worcester is aangekeer met 95-duisend foto’s en ses-duisend video’s van kinderpornografie in sy besit:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê ‘n kommerwekkende kombinasie van konflik, klimaatverwante bedreigings en toenemende ekonomiese probleme beteken sowat 166-miljoen mense het hulp met gesondheid nodig. Die organisasie gaan net vanjaar 28,7-miljard-rand nodig hê vir lewensreddende mediese noodhulp aan miljoene mense. Die WGO se direkteur-generaal, Tedros Ghebreyesus, sê vanjaar sal ʼn bepalende jaar wees vir wêreldgesondheid terwyl die organisasie probeer om die wêreld ʼn gesonder, veiliger en regverdiger plek te maak.
# Tennis: Die Amerikaner Coco Gauff is die eerste keer in haar loopbaan deur na die halfeindronde van die Australiese Ope. Sy het Marta Kostyuk van Oekraïne in drie uur en agt minute met 7-6, 6-7 en 6-2 geklop. Dis die heersende Amerikaanse Ope-kampioen se 12de agtereenvolgende oorwinning in ‘n Grand Slam-toernooi en sy het vanjaar nog nie een wedstryd verloor nie. Gauff sê sy het vandag alles op die baan gelos:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-5-sent teen die dollar, 20-rand-80-sent teen die euro en 24-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 39-duisend-919-dollar-46-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-34-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….