Nuus 11:00
BULLETIN 26 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Geslagsgeweld-bevelsentrum sal 24/7 oop wees tydens die feestyd
# Kim Jong Un van Noord-Korea sê hy gaan voort met missielontwikkeling in die volgende vyf jaar
# En sokker: Bafana Bafana se karakter gaan getoets word in hul Afrikabeker-wedstryd teen Egipte
# Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling se Bevelsentrum vir Geslagsgeweld is gedurende die feestyd 24 uur per dag oop. Die sentrum bied gratis en vertroulike ondersteuning aan oorlewendes, insluitend berading, verwysings na skuilings, maatskaplike werkers en die polisie. Die waarnemende woordvoerder, Sandy Godlwana, sê die diens verseker dat slagoffers onmiddellik hulp en beskerming kan kry gedurende hierdie tydperk wat dikwels gekenmerk word deur toenemende gevalle van mishandeling:
Intussen waarsku die Sentrale Dwelmowerheid dat alkoholmisbruik en onwettige drankwinkels ‘n ernstige bron van kommer bly. Die voorsitter, Nomcebo Dlamini sê in ‘n onderhoud met SABC News meer as vyf-duisend-200 onwettige winkels is sedert die begin van die feestyd gesluit, wat wydverspreide wetteloosheid beklemtoon. Dhlamini sê alkohol is sterk gekoppel aan geslagsgeweld en sy doen ‘n beroep op beter koördinering tussen die regering en gemeenskappe. Sy pleit ook by inwoners om onwettige winkels en minderjarige drankgebruik by die owerhede aan te meld:
# Die burgemeesterskomiteelid vir Openbare Veiligheid in Johannesburg, Mgcini Tshwaku, sê die Stad sal huurders wat in gekaapte geboue woon, betrek om te bepaal wie huur kan bekostig en onderhandelinge voer in plaas daarvan om slegs op uitsettings staat te maak. Tshwaku sê waar inwoners saamwerk, sal basiese herstelwerk en veiligheidsopgraderings gedoen word. Hy voeg by dat misdadigers en onwettige operateurs beslissend aangespreek sal word, aangesien die Stad blok-vir-blok-opruiming verskerp om veiligheid en orde te herstel:
# Gift of the Givers-spanne is sedert die vroeë oggendure by verskeie brande in informele nedersettings regoor die Wes-Kaap ontplooi. ‘n Woordvoerder, Ali Sablay sê ‘n brand in die Imizamo Yethu Informele Nedersetting in Houtbaai het ‘n aantal strukture vernietig en byna 200 mense dakloos gelaat. Hy sê Gift of the Givers is besig by nog ‘n brand in Vygieskraal, Manenberg:
# Die Noord-Koreaanse leier Kim Jong Un het tydens ‘n besoek aan groot ammunisie-ondernemings in die laaste kwartaal van 2025 gesê die land sal voortgaan om missiele in die volgende vyf jaar te ontwikkel. Volgens die staatsmedia KCNA het Kim gesê die land se missiel- en granaatproduksiesektor is van kardinale belang om die oorlogsafskrikmiddel te versterk. Kim het konsepdokumente vir die modernisering van groot ammunisie-ondernemings bekragtig wat voorgelê sal word aan ‘n belangrike partykongres wat na verwagting vroeg in 2026 gehou sal word.
# En sokker: Bafana Bafana kom vanaand voor ‘n reusetoets te staan in hul Afrikabeker-wedstryd teen Egipte op die Grand Stade d’Agadir. Beide reuse het uit Groep B met 2-1 oorwinnings uit die stryd getree. Suid-Afrika het Angola geklop en Egipte het ‘n nederlaag teen Zimbabwe afgeweer met ‘n laat doel deur Mohamed Salah. Met ‘n oorwinning wat waarskynlik ‘n plek in die uitklopfase sal verseker, is die uitdaging vir Bafana enorm. Afrigter Hugo Broos moet verdedigingsdissipline verseker om Salah in toom te hou, terwyl hy staatmaak op die spelgereedheid van Lyle Foster en Oswin Appollis om die Farao’s af te weer. Afskoptyd is om ses uur.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….