Nuus 11:00
BULLETIN 17 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa lei die virtuele buitengewone SAOG-beraad vir staats- en regeringshoofde
# Die EFF sê versoening bly ‘n vals belofte vir sogenaamde verdruktes
# En sokker: Dembele en Bonmatí wen die FIFA-toekennings as die beste mans- en vrouespeler van die jaar
# President Cyril Ramaphosa sal vandag die opening van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se virtuele buitengewone beraad vir staats- en regeringshoofde waarneem in sy hoedanigheid as tussentydse voorsitter. Die beraad se tema is “Bevorder nywerheidsontwikkeling, landbouhervorming en energie-oordrag vir ʼn veerkragtige SAOG”. Die Presidensie sê die beraad sal die feitesendingverslag oor die politieke situasie in Madagaskar bespreek, asook die tussentydse inkomende voorsitter.
# Die EFF sê versoening kan nie gevier word terwyl apartheid-era ongeregtigheid, grondonteiening en ekonomiese uitsluiting volgens hom voortduur nie. Dit was gister Versoeningsdag in Suid-Afrika. Nqobile Mhlongo van die EFF sê na drie dekades van demokrasie is apartheidsmisdade nie voldoende hanteer nie. Sy sê versoening sonder aanspreeklikheid is nie eenheid nie, maar geheueverlies:
# Die Gautengse Onderwysdepartement het altesaam vyfduisend-199 appèl-aansoeke ontvang het as deel van die aanlyn toelatingsproses vir graad 1 en 8 in 2026. Ouers of voogde wat ‘n oordragplasingaanbod by ‘n skool ontvang waarvoor hulle nie aansoek gedoen het nie, het sewe dae om die aanbod te aanvaar of van die hand te wys. Intussen sê die departement se woordvoerder, Steve Mabona, die plasingsproses in alle distrikte duur voort:
Nuus uit die buiteland:
# Amerikaanse ondersoekbeamptes het ‘n nuwe verbeterde video en foto vrygestel van die verdagte in die skietery by Brown Universiteit waarin twee studente dood is. Nege mense is gewond by die Ivy League-instelling op Rhode Island. ‘n Persoon van belang wat vroeër aangehou is, is intussen vrygelaat. Providence se polisiehoof, Oscar Perez, sê dis duidelik op die video hoe die persoon die gebied voor die misdaad gemonitor het:
# Sokker: Ousmane Dembele wat vir Paris St-Germain en Frankryk speel, is as beste speler aangewys op die Beste FIFA toekennings in Katar. Dembele, wat die Ballon d’Or in September gewen het, het ‘n belangrike rol gespeel in PSG se onvergeetlike seisoen, onder meer hul 13de Ligue 1-titel en ‘n geskiedkundige eerste Kampioeneliga-titel. Aitana Bonmatí van Spanje en Barcelona is ‘n geskiedkundige derde agtereenvolgende jaar aangewys as beste vrouespeler. Luis Enrique van PSG en Sarina Wiegman van Engeland het onderskeidelik die toekennings vir beste mans- en vroue-afrigters gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-78-sent teen die dollar, 19-rand-64-sent teen die euro en 22-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-775-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-326-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 59-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….