Nuus 11:00
BULLETIN 11 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Matriekeksamen-ongerymdhede is ontdek in sewe Gautengse skole
# Venezuela beskuldig Amerika van internasionale seerowery
# En rugby: Eben Etzebeth sê die oogkrap-voorval was nie opsetlik nie
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê nasieners het ongerymdhede opgemerk in ses matriekeksamen-antwoordstelle in Gauteng. Die provinsiale Onderwysdepartement het die nasionale departement ingelig oor ongewone ooreenkomste in antwoorde wat kandidate voorsien het. Gwarube sê dit hou verband met Engels Huistaal-vraestelle 1, 2 en 3; Wiskunde-vraestelle 1 en 2; en Fisiese Wetenskappe-vraestelle 1 en 2, en betrek 26 leerders in die omgewing van Pretoria:
# United Africans Transformation sê die regering van nasionale eenheid is in ‘n krisis, en nie in staat om oor beleide saam te stem of bestendige leierskap te bied nie. Die organisasie sê openbare konflikte, afhanklikheid van eksterne steun vir die begroting en interne verdeeldheid onthul ‘n regering wat in ‘n stryd met homself gewikkel is. Woordvoerder Mighty Mabule vra die ordelike ontbinding van die regering om standvastige, verantwoordbare leierskap moontlik te maak:
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, het uitgevaar teen sommige lede wat wil hê die burgemeester van Johannesburg, Dada Morero, moet bedank. Morero het verlede week sy poging verloor om weer verkies te word as streekvoorsitter van die groter Johannesburg en Loyiso Masuku is verkies. Mbalula sê om die voorsitter van ‘n streek te wees gee ‘n persoon nie die status van burgemeester nie, veral nie in ‘n stad waar die ANC nie in beheer is nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die Venezolaanse regering het hom sterk uitgespreek teen die Amerikaanse Weermag se beslaglegging op ‘n groot olietenkskip aan sy kus en beskryf dit as ʼn ernstige internasionale misdaad. Amerika se prokureur-generaal, Pam Bondi, beweer die vaartuig was betrokke by ʼn onwettige olieverskepingsnetwerk wat buitelandse terroriste-organisasies ondersteun en olie tussen Venezuela en Iran vervoer. Die Venezolaanse regering sê Amerika se beleid van aggressie teen die land is deel van ʼn plan om sy energiebronne te plunder.
# Rugby: Die Springbok-slot Eben Etzebeth het op sosialemedia kommentaar gelewer oor sy skorsing van 12 weke. ʼn Onafhanklike tugpaneel het hom verlede week skuldig bevind nadat hy verlede maand in Cardiff sy vinger in die Walliese flank, Alex Mann, se oog gedruk het. Etzebeth gebruik drie videogrepe om te bewys die optrede was per ongeluk, maar aanvaar skuld. Hy wil nie hê jong kinders wat na die Bokke opsien, moet dink dis reg om jou vinger in iemand se oog te druk nie, maar sê ongelukke gebeur.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-92-sent teen die dollar, 19-rand-79-sent teen die euro en 22-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-190-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-213-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 61-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….