Nuus 11:00
BULLETIN 8 December 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa sê geweld teen vroue en kinders is nasionale ramp wat nasionale optrede vereis
# Die GOOD-party vra meer beskerming vir getuies en verklikkers
# En krieket: Stokes bevraagteken Engeland se ingesteldheid na die nederlaag in tweede toets om die As
# President Cyril Ramaphosa sê dis ‘n skande dat Suid-Afrika die twyfelagtige eer het om een van die wêreld se hoogste vlakke van geweld teen vroue en kinders te hê. Volgens ʼn studie het meer as 35-persent Suid-Afrikaanse vroue van 18 jaar en ouer al fisiese of seksuele geweld beleef. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief die regering het geslagsgeweld en vrouemoord tot nasionale ramp verklaar en erken daarmee dat die hantering hiervan buitengewone maatreëls vereis. Hy sê voorkoming is ʼn integrale deel van die nasionale poging teen geslagsgeweld en vrouemoord.
# Die GOOD-party sê beskerming vir getuies en verklikkers moet verbeter word. Dit volg na die moord op Marius van der Merwe, wat verlede maand as Getuie D voor die Madlanga-kommissie van ondersoek getuig het. Hy is Vrydagaand buite sy huis in Brakpan in Gauteng doodgeskiet. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê solank mense wat betrek word vry rondloop, en die dapperes wat die waarheid ontbloot in vroeë grafte beland, is ware geregtigheid nie moontlik nie:
# Die Grensbestuursowerheid en die Departement van Binnelandse Sake het die bedryfsure verleng by sommige van die belangrikste toegangspunte, wat tans nie 24 uur per dag oop is nie. Kommissaris Michael Masiapoto het die media ingelig oor wetstoepassingsoptredes tydens die feestyd en veranderings aan bedryfsure. Hy sê die veranderings sal mense help wat na ses na aangrensende buurlande wil reis, insluitend Lesotho, Mosambiek en Zimbabwe:
# Thailand het vroeg vanoggend lugaanvalle langs die betwiste grens met Kambodja uitgevoer, na weke van groeiende spanning tussen die Suidoos-Asiatiese bure. Thailand se Koninklike Lugmag sê die lugaanvalle is vergelding vir ‘n aanval deur Kambodja, waarin ‘n soldaat dood en agt beseer is. Die Thaise Weermag sê die lugaanvalle het slegs militêre infrastruktuur en logistieke roetes geteiken wat as regstreekse bedreigings beskou word. Albei lande beskuldig mekaar dat hulle ‘n skietstilstandooreenkoms verbreek het wat deur Maleisië en die Amerikaanse president, Donald Trump, bemiddel is.
# Krieket: Engeland se kaptein, Ben Stokes, sê sy span swig onder die intense geestelike druk van die reeks om die As. Dit volg nadat Engeland met agt paaltjies teen Australië verloor het op die Gabba en nou 2-0 agter is in die reeks. Stokes sê die span is goed wanneer hulle voor of agter is en moet inhaal, maar wanneer die wedstryd op die spel is, kan hulle nie die druk hanteer nie. Hy meen dis ‘n geval van geestelike ingesteldheid:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-92-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 22-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-453-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-213-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….