Nuus 11:00
BULLETIN 21 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Dricus du Plessis is die nuwe UFC middelgewig-wêreldkampioen
# Twee mense is dood aangetref na ‘n brand in die Johannesburgse middestad
# En, meer as half-miljoen voltydse Graad-12-leerders was ontvangers van maatskaplike toelae
# Ons begin met uitstekende gemengde gevegskuns-nuus: Suid-Afrika se eerste Ultimate Fighter-kampioen, Dricus du Plessis, het die verdedigende kampioen, die Amerikaner Sean Strickland vanoggend geklop om die middelgewig UFC-wêreldtitel in te palm. Die twee vegters het nie opgehou om houe te plant tot die eindfluitjie geblaas het nie, in wat ‘n ware houegeveg in Toronto, Kanada was. Du Plessis se linkeroog was na die geveg byna heeltemal toegeswel en bloed het langs Strickland se gesig afgeloop. Die skeidsregters het uiteindelik besluit Du Plessis verdien om te wen, ná ‘n verdeelde beslissing. Dit is sy eerste titelgeveg in die UFC en die vegter van Pretoria is steeds onoorwonne sedert Oktober 2020:
# Terug op die tuisfront: Twee mense is dood en vier is na hospitale vervoer na ‘n brand in die Johannesburgse middestad uitgebreek het. Die stad se noodbestuursdienste is vanoggend na die woonstelgebou op die hoek van Commissioner- en Nuggetstraat ontbied. ‘n Woordvoerder van die nooddienste, Nana Radebe-Kgiba, sê twee liggame is tot dusver gevind terwyl die soek- en reddingsoperasie voortduur:
En in China het ‘n brand in slaapsale by ‘n koshuis vir laerskoolleerders in die sentrale Henan-provinsie uitgebreek en 13 kinders se lewens geëis. Die slagoffers is almal graad-drie-leerders. China se staatsmedia berig die skool se eienaar word aangehou. Een persoon is uit die gebou gered en word in die hospitaal behandel. ‘n Berig van Xinhua lui die skool het metaalroosters voor die vensters gehad, wat algemeen in geboue in China gebruik word. Sestien kinders is veilig ontruim.
# Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Lindiwe Zulu het al die Graad 12-leerders wat maatskaplike toelae en dienste ontvang en die 2023 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen geslaag het, gelukgewens. Van die 897-duisend-775 leerders wat die eksamen afgelê het, was 543-duisend-786 ontvangers van maatskaplike toelae. Die woordvoerder van die departement, Lumka Oliphant, sê 62 van hulle is onder die toppresteerders in verskillende kategorieë:
Die parlement se portefeuljekomitee oor Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering is intussen ernstig bekommerd oor die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente se uitstaande toelae-krisis van die 2023 akademiese jaar. Dit sluit in die betaling van uitstaande toelae aan studente, die afhandeling van appèlaansoeke, en die akkreditasie van privaat huisvesting. Die komitee is steeds bekommerd oor die onvermoë om uitstaande toelae te betaal, wat ‘n uitkringingseffek op studenteregistrasie vir dié akademiese jaar kan hê. Hy doen ‘n beroep op die skema om die saak dringend op te los.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….