Nuus 11:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 16 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Instituut vir Sekerheidstudies sê ‘n nuwe strategiese benadering is nodig om Suid-Afrika se hoë moordsyfer te takel
# Amerika en China stem in om onderlinge militêre kommunikasie te hervat
# Rugby: Die Haaie-duo Bongi Mbonambi en Vincent Kock gaan maande lank buite aksie wees weens beserings
# Te midde van ‘n stygende moordsyfer in Suid-Afrika, het die polisie se vermoë om oortreders aan te keer en skuldig te bevind, gedaal en slegs een uit tien moordsake eindig nou in suksesvolle vervolging. Dit is volgens ‘n nuwe verslag deur die Instituut vir Sekerheidstudies, wat toon moorde het vanaf 2011/2012 tot verlede jaar met 77-persent gestyg. Drie-en-tagtig-present van die moorde is in KwaZulu-Natal, Gauteng, die Wes- en Oos-Kaap aangeteken. Gareth Newham van die instituut sê operasies met hoë polisiesigbaarheid het vir meer as ‘n dekade nie daarin geslaag om misdaad te verminder nie, en die kwessie vereis ‘n ander strategiese benadering.
# Die publiek het minder as 30 dae om kommentaar te lewer op die Konsepwetsontwerp op die Petroleum-maatskappy wat deur die minister van Energie, Gwede Mantashe, voorgestel is. Dit is gemik op die vestiging van die maatskappy wat behoorlike bestuur, konsolidering en bate-oordrag in ooreenstemming met tersaaklike wetgewing moet verseker. Die maatskappy word gesien as die staat se hanteerder van energie-infrastruktuur dwarsoor die waardeketting, deur verkenning en produksieregte te bestuur en volhoubare ontwikkeling van petroleumbronne moet verseker. Die wetgewing gee aandag aan aspekte soos samewerkende bestuur, raadsfunskies en befondsing vir doeltreffende maatskappy-bedryf.
# Die EFF in Gauteng sê hy neem met kommer kennis van die verdoemende berigte oor vermeende korrupsie rakende die Gautengse maatskaplike behuisingsprojek, Sondela Village, in Springs, Ekurhuleni. Die ANC-provinsiale regering het na bewering bewustelik ’n maatskaplikebehuisingsprojek van 71-miljoen-rand aan Let’s Care South Africa toegeken, alhoewel die maatskappy reeds likwidasie in die gesig gestaar, weens slegte skuld en finansiële wanbestuur. Die Regulerende Owerheid vir Maatskaplike Behuising het die projek opgeskort. Dumisani Baleni van die EFF, sê hulle eis aanspreeklikheid:
Speel klankgreep: ENG BaleniOnHousingProject
# Die Amerikaanse president Joe Biden en sy Chinese ampsgenoot, Xi Jinping het ooreengekom om op militêre vlak te kommunikeer in ʼn poging om toenemende spanning tussen dié lande te verlig. Die twee leiers het by die Asië/Stille Oseaan-konferensie vir ekonomiese samewerking in Kalifornië ontmoet. Biden sê die herstel van onderlinge militêre kontakte is noodsaaklik om ongelukke en gevaarlike, verkeerde berekenings te verminder. Hy sê as twee ekonomiese en militêre supermagte, moet Amerika en China seker maak die wedywering tussen hulle stuur nie op konflik af nie:
Speel klankgreep: ENG BidenOnProgress
# Rugby: Die Sharks gaan vir ‘n lang tydperk sonder die voorry-duo Bongi Mbonambi en Vincent Koch moet klaarkom, weens kniebeserings. Mbonambi moes die veld vroeg verlaat in die Wêreldbeker-eindstryd teen Nieu-Seeland verlede maand in Parys, nadat hy ‘n kniebesering opgedoen het. Kock het ook die Wêreldbeker-eindstryd weens ’n kniebesering misgeloop. Die Haaie-afrigter, John Plumtree, sê Mbonambi kan tot ses maande op die kantlyn wees, terwyl Koch tot drie maande lank buite aksie sal wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-23-sent teen die dollar, 19-rand-76-sent teen die euro en 22-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-520-dollar-6-sent. Die prys van goud is een-duisend-966-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….