Nuus 11:00
BULLETIN 15 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die terugkeer van Koeberg se eenheid-een word vertraag sonder die moontlikheid van beurtkrag
# Solidariteit behaal ’n groot oorwinning in ‘n polisie-diskriminasiesaak
# En rugby: Die Springbok Jasper Wiese verskyn vandag voor ‘n tugkomitee na sy rooikaart teen Italië
# Eskom sê Eenheid 1 van die Koeberg-kernkragsentrale in Kaapstad sal nou teen die einde van Augustus weer aanlyn wees. Daar is aanvanklik verwag dat die eenheid dié maand weer in diens sou wees. Die eenheid van 930-megawatt is tans afgeskakel vir die tweede fase van ‘n langtermyn-bedryfsverlenging. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die hersiene tydlyn is te wyte aan foute wat tydens inspeksies en onderhoud gevind is. Sy voeg by die vertraging sal nie die risiko van beurtkrag verhoog nie:
# Die vakbond Solidariteit verwelkom ’n uitspraak deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie wat bevind het dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens skuldig is aan onbillike arbeidspraktyke. Dit volg nadat ‘n offisier van die Valke in Kimberley in die Noord-Kaap, Ralda Breedt, oor die hoof gesien is vir ‘n bevordering wat aan ‘n swakker gekwalifiseerde kandidaat toegeken is. Theunis van Staden van Solidariteit sê Breedt sal nou bevorder word en ‘n salaris van 660-duisend-rand ontvang, terugwerkend vanaf 2023, wat hierdie maand uitbetaal sal word:
# Die DA in Johannesburg sê dis ontstellend dat Jayden-Lee Meek se ma van sy moord beskuldig word. Die 11-jarige seun se gekneusde liggaam is in Mei vanjaar in sy woonstelgebou in Fleurhof, Johannesburg, gevind. Die 31-jarige Tiffany Meek het gister die eerste keer in die hof verskyn. Belinda Kayser-Echeozonjoku van die DA sê die groter kwessie van kindermishandeling en huishoudelike geweld kry nie voldoende aandag in Suid-Afrika nie:
Nou nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies se kinderregte-agentskap, UNICEF, doen ‘n beroep op Israel om sy reëls oor betrokkenheid in Gaza te hersien en internasionale humanitêre wette na te kom. Dit volg nadat tien Palestyne, insluitend sewe kinders, Sondag by ʼn waterpunt in Gaza dood is tydens ʼn Israelse missielaanval. Die Israelse Weermag sê die teiken was ʼn Islamitiese djihad-vegter, maar die missiel het weens ʼn tegniese fout van koers afgewyk. UNICEF vra ʼn onmiddellike en blywende skietstilstand.
# Rugby: Die Springbok-losvoorspeler Jasper Wiese verskyn vandag voor ‘n tugkomitee van Wêreldrugby na sy rooikaart tydens Saterdag se tweede toets teen Italië in Gqeberha. Die Ierse skeidsregter, Andrew Brace, het hom afgestuur vir ‘n kopstamp tydens ‘n onderonsie in die eerste helfte. Die Bokke het nogtans 45-0 gewen. Wiese kan waarskynlik ‘n swaar straf verwag omdat sy dissiplinêre rekord nie te goed lyk nie. Die uitwysingskomitee het die saak reguit na ‘n volle verhoor verwys, wat dui op die erns van die aanklag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-83-sent teen die dollar, 20-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-131-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-357-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 68-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….