Nuus 11:00
BULLETIN 5 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê lande ondersteun Suid-Afrika se deelname aan die G20
# Binnelandse Sake se kantoorure word verleng vir die feestyd
# En rugby: Die nuweling Nabo Sokoyi word ingesluit in die Blitsbokspan vir die Kaapstadse Sewes
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê Suid-Afrika geniet die ondersteuning van ander lidlande om tydens Amerika se presidentskap alle G20-bedrywighede by te woon en daaraan deel te neem. Amerika se minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, het bevestig Washington sal Suid-Afrika verhoed om aan volgende jaar se leiersberaad in Miami deel te neem. President Donald Trump sê die regering is besig met volksmoord teen Afrikaners. Mashatile sê Trump se veldtog teen Suid-Afrika se G20-presidentskap sal nie keer dat nasies verbintenisse nakom waarop in verlede maand se leiersverklaring besluit is nie.
# Die EFF verwerp die Departement van Basiese Onderwys se begrotingshersiening-en-aanbevelingsverslag vir die 2024/25-boekjaar. Die verslag fokus op belangrike voorkeure soos toegang tot vroeëkinderjare-ontwikkeling, bevordering van basiese lees- en syfervaardighede, verbetering van skoolinfrastruktuur, leerderveiligheid en welstand. EFF-woordvoerder Hlengiwe Mkhaliphi sê die verslag stel mislukkings soos onregmatige besteding en onbestendigheid in die nasionale skoolvoedingsprogram in ‘n goeie lig, en verberg diepliggende strukturele swakhede in die departement:
# Die Departement van Binnelandse Sake verleng sy kantoorure voor die feestyd om Suid-Afrikaners te help om noodsaaklike dokumente te bekom. Van Maandag tot 19 Desember en weer van 5 tot 16 Januarie sal kantore om 6 namiddag in plaas van 4-uur sluit vir aansoeke en die afhaal van slim identiteitskaarte en paspoorte. Minister Leon Schreiber spoor mense aan om die verlengde ure te benut om te verseker reisdokumente is gereed vir die feestyd:
Nuus uit die buiteland:
# Die leier van ‘n misdaadgroep wat Israel na bewering ondersteun, Yasser Abu Shabab, is in die suide van Gaza dood. Hy was die leier van die sogenaamde Popular Forces wat aanvalle in Hamas-beheerde gebiede uitvoer en dan na bewering vinnig terugtrek na die beskerming van Israel. Abu Shabab is dood toe hy onenigheid tussen lede van ‘n familie probeer besleg het. Hamas het nie aanspreeklikheid vir sy dood aanvaar nie, maar sê Abu Shabab se lot is onafwendbaar vir almal wat hul mense en land verraai.
# Rugby: Die nuweling en veelsydige agterspeler Nabo Sokoy is ingesluit in die Springbok Sewesspan vir hierdie naweek se wêreldreeks-sewestoernooi in Kaapstad. Die 23-jarige vervang Mfundo Ndhlovu in die enigste verandering aan die span wat verlede week vyfde klaargemaak het in Dubai. Die Blitsbokke se afrigter, Philip Snyman, sê Sokoyi het die talent en vermoë om ‘n permanente lid van die span te word. Suid-Afrika speel môre op die eerste dag teen Nieu-Seeland, Fiji en Engeland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-94-sent teen de dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 22-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-366-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-227-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….