Nuus 11:00
BULLETIN 26 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se krieketspan wen die eerste keer in 25-jaar ‘n toetsreeks in Indië
# Die gewese hoof van die Padongelukkefonds sê Skoor se ondersoek is ‘n boendoehof
# En die Verenigde Nasies bevind meer as 50-duisend vroue en meisies is verlede jaar met opset vermoor
# Ons begin met krieket: Die heersende IKR-wêreldtoetskampioen, Suid-Afrika, het Indië met ‘n reuse-408 lopies verslaan om hul eerste reeksoorwinning op Indiese bodem in 25 jaar te verseker. Simon Harmer het ses paaltjies geneem toe die gashere in hul tweede beurt uitgeboul is vir 140 in die tweede en laaste toets. Die Proteas het 489 in hul eerste beurt aangeteken toe Senuran Muthusamy 109 bygedra het. Indië is daarna vir 201 uitgeboul toe Marco Jansen ses paaltjies geneem het. Suid-Afrika het hul tweede beurt op 260 vir vyf gesluit.
Nou ander nuus:
# Die gewese uitvoerende hoof van die Padongelukkefonds, Collins Letsoalo, hou vol dat hy nie voor die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge sal verskyn in sy ondersoek na wanadministrasie by dié feitlik bankrot fonds nie. Hy het gister nie by die ondersoek opgedaag nie en ‘n dagvaarding geminag. Skoor het getuienis van gewese en huidige werknemers aangehoor oor die bestuur van die fonds toe Letsoalo tot einde Augustus aan die stuur was. Letsoalo het aan die SABC gesê die komitee tree buite sy bevoegdhede op:
Intussen sê die DA Letsoalo moet strafregtelik vervolg word. Patrick Atkinson van die DA sê bewyse toon dat Letsoalo se wanbestuur sedert 2020 miljarde rand in laste geskep het, vergoeding vir duisende eisers vertraag en ‘n toksiese werksomgewing vir personeel bevorder het. Atkinson het bygevoeg dat die ignorering van ‘n wettige parlementêre dagvaarding nie geduld kan word nie, en dring daarop aan dat die Parlement beslissende stappe doen.
# Gauteng se LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, het bewerings van voedseltekorte in staatshospitale verwerp en gesê dit is misleidend. Jack Bloom van die DA sê hy het verlede week op pasiënte afgekom wat slegs ‘n sny brood met margarien en kaas gekry het in die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal in Johannesburg. Dit het kommer laat ontstaan oor pasiënte se voeding en die gevolge van die tydelike sluiting van sy Masakhane Cook Freeze-fabriek weens E. coli-besmetting. Nkomo-Ralehoko sê hospitale gaan voort om drie maaltye per dag te verskaf:
Nuus uit die buiteland:
# Lewensmaats en familielede het verlede jaar elke tien minute ‘n vrou of meisie met opset vermoor. Dit is volgens die jongste verslag van die Verenigde Nasies se Organisasie vir Vroue. Die verslag toon ongeveer 50-duisend vroue en meisies is verlede jaar wêreldwyd deur hul intieme maats of ander familielede vermoor. Afrika het die grootste aantal moorde op vroue deur lewensmaats of familielede aangeteken, met ‘n geraamde 22-duisend-600 slagoffers. Sarah Hendriks van die VN-vroue-organisasie sê geweld wat met die hulp van tegnologie gepleeg word, lei in sekere gevalle tot vrouemoord:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 22-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-706-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-151-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….