Nuus 11:00
BULLETIN 24 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkminister van Finansies sê die G20-uitgawes moet teen langtermynwinste opgeweeg word
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake sê vordering is gemaak met die Oekraïnse vredesplan
# En sokker: Banyana Banyana se afrigter meet individuele vertonings in die vriendskaplike wedstryd teen Marokko
# Die adjunkminister van Finansies, David Masondo, sê Suid-Afrika se uitgawes vir die G20-leiersberaad moet as ‘n belegging beskou word, en nie net as ‘n uitgawe nie. Die regering het nog nie die finale uitgawes bekend gemaak nie. Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking se skatting was in September ongeveer 700-miljoen-rand. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het twee weke gelede ‘n bykomende 100-miljoen-rand aan die G20-begroting toegeken. Masondo sê die langtermynvoordele van die beraad sluit in verbeterde blootstelling, potensiële beleggings-invloei en verhoogde diplomatieke status.
Die ANC sê intussen die beraad het Suid-Afrika se vermoë getoon om betekenisvolle dialoog tussen die wêreld se belangrikste leiers en ekonomieë te lei, byeen te roep en te bemiddel. Die beraad, wat gister in Johannesburg afgesluit het, is die eerste keer in Afrika gehou. Die ANC se nasionale woordvoerder, Mahlengi Bhengu, sê hulle verwelkom die aanneming van die leiersverklaring, wat ‘n verenigde wêreldwye verbintenis weerspieël om die internasionale finansiële argitektuur te hervorm, ‘n regverdige energie-oorgang te bevorder en waardekettings tussen vastelande te versterk:
# ActionSA verwerp wat hy as polities-gemotiveerde skorsings in die Stad Ekurhuleni beskou, te midde van ernstige bewerings wat voor die Madlanga-kommissie geopper is. Dit volg op die skorsing van die hoof van Menslike Hulpbronne, Linda Gxasheka, en Kemi Behari van Korporatiewe Regsdienste deur die burgemeester Nkosindiphile Xhakaza se kantoor. Zwelithini Mtshali van ActionSA sê die skorsings blyk polities van aard te wees en kan beskou word as ‘n vermeende poging om amptenare wat politieke besluite neem, uit te werk:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê goeie vordering is gemaak met gesprekke om ‘n Amerikaanse vredesplan te finaliseer om die Russies-Oekraïnse oorlog te beëindig. Hy het gister in Genève, Switserland, vergader met ‘n Oekraïnse afvaardiging onder leiding van president Volodimir Zelensky se personeelhoof, Andriy Yermak. Die konsep-plan van 28 punte sluit in dat Kiëf beheer afstaan van ‘n gebied in die ooste en die grootte van sy Weermag halveer. Rubio sê die onafgehandelde items is nie onoorkomelik nie:
# Sokker: Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, sê sy wil volgende Dinsdag se internasionale vriendskaplike wedstryd teen Marokko gebruik om individuele prestasie te meet. Dit is ter voorbereiding van 2026 se Afrikabeker-toernooi vir vroue. Suid-Afrika het verlede maand amptelik vir die toernooi gekwalifiseer met ‘n oorwinning van 1-0 oor die Demokratiese Republiek die Kongo. Ellis het ʼn groep van 26 gekies wat Vrydag na Marokko reis. Sy sê die vriendskaplike wedstryd sal spelers waardevolle blootstelling gee aan verskillende taktiese opstellings en mededingende wedstryd-intensiteit voor die WAFCON.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-728-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-55-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….