Nuus 11:00
BULLETIN 21 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie sê Ramaphosa gaan nie die G20-presidentskap aan ‘n junior Amerikaanse diplomaat oorhandig nie
# Kleinhandelverkope styg met net meer as drie-persent in September
# En motorsport: Leclerc en Norris gee die pas aan in die oefenrondes in Las Vegas
# Die Presidensie sê Suid-Afrika sal nie die G20-presidentskap aan die Amerikaanse Chargé d’Affaires, Marc Dillard, oorhandig nie. Dillard word beskou as ‘n junior ambassade-amptenaar. President Cyril Ramaphosa het gister aangekondig Washington heroorweeg sy besluit om nie die naweek se G20-leiersberaad by te woon nie. Die Withuis ontken dit en sê Amerika sal nie aan enige besprekings deelneem nie, maar Dillard sal wel Sondag die oorhandigingseremonie as ‘n formaliteit bywoon.
RISE Mzansi sê intussen Suid-Afrika is heeltemal bevoeg om ʼn suksesvolle G20-leiersberaad aan te bied. Altesaam 42 lande en organisasies neem die naweek in Johannesburg deel aan die beraad wat die eerste keer in Afrika aangebied word. RISE Mzansi se woordvoerder, Makashule Gana, sê dis ʼn geleentheid vir die land en Afrika om tussen ander lande uit te staan as leiers op die gebied van finansies, landbou, vernuwing, tegnologie, die kunste en medisyne:
# Statistieke Suid-Afrika sê kleinhandelverkope het in September met 3,1-persent gestyg vergeleke met verlede jaar. Die grootste groei het gekom van algemene handelaars, klere- en skoenwinkels, en meubel- en toestel-kleinhandelaars. Raquel Floris van Statistieke SA sê maand-tot-maand verkope was onveranderd in vergelyking met Augustus, na ‘n daling van 1,6-persent die vorige maand:
Nuus uit die buiteland:
# Oekraïne se verteenwoordiger by die Verenigde Nasies, Khrystyna Hayovyshyn, sê daar is net een realistiese manier om die oorlog te beëindig: Rusland moet oortuig word om ekonomies, polities en militêr te onttrek. Oekraïne het die konsep-vredesplan ontvang wat tussen president Donald Trump van Amerika se administrasie en Rusland onderhandel is. Volgens berigte stel die plan voor Kiëf moet van die oostelike dele van die land prysgee en sy Weermag verklein. Hayovyshyn sê Oekraïne kan nie hierdie voorwaardes aanvaar nie:
# Motorsport: Charles Leclerc van Ferrari was die vinnigste in die eerste oefenronde van die Las Vegas Grand Prix en die kampioenskaps-voorloper, Lando Norris van McLaren, het in die tweede ronde die beste gevaar. Leclerc het voor Alex Albon van Williams en Yuki Tsunoda van Red Bull klaargemaak. Norris was 0,029 sekondes vinniger as Kimi Antonelli van Mercedes en Leclerc derde vinnigste in ‘n onderbroke tweede ronde. Norris begin die naweek met 24-punte voor sy spanmaat, Oscar Piastri, in die kampioenskap met nog drie wedrenne oor.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-25-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 22-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-386-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-37-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….