Nuus 11:00
BULLETIN 20 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party beskryf die G20-leiersberaad as politieke teater
# Trump onderteken ‘n wetsontwerp vir die bekendmaking van alle verslae rakende Jeffrey Epstein
# En rugby: Kolbe sê die Bokke moet hul geleenthede gebruik teen Ierland
# Die MK-party sê hy is gekant teen die G20-leiersberaad en die politieke teater wat dit omring. Die beraad word deur verteenwoordigers uit 42 lande bygewoon en die eerste keer in Afrika aangebied. Dit vind die naweek in Johannesburg plaas. Die MK-party sê terwyl wêreldleiers byeenkom om ontwikkeling, volhoubaarheid en gedeelde voorspoed te bespreek, gaan Suid-Afrika agteruit op byna elke maatskaplik-ekonomiese aanwyser. Hy sê die beraad dien bloot as verhoog vir foto-geleenthede en toesprake wat nie vir Suid-Afrikaners ware verandering bring nie.
Green Connection sê intussen ‘n koalisie van klimaatsaktiviste en benadeelde gemeenskappe gaan vandag in Johannesburg in die aanloop tot die G20-beraad beswaar maak teen TotalEnergies se eeu-lange omgewingsvernietiging en menseregteskendings. Voorstanders beklemtoon die ontworteling van die Oos-Afrikaanse Ru-oliepyplyn en Mosambiekse gasprojekte. Die koalisie eis ‘n einde aan nuwe olie- en gasontwikkeling, vergoeding vir benadeelde gemeenskappe, staking van groenpoetsery, en ‘n regverdige, hernubare energie-oorgang in Afrika.
# Die vakbond Nehawu verwerp die verhoging van 9,8-persent in lede se bydrae tot die mediese fonds vir regeringsamptenare vir volgende jaar. Volgens die fonds is die aanpassing ‘n nodige belegging om sukses te verseker en waarde en bestendigheid vir meer as 2,4-miljoen lede te verseker. Nehawu se woordvoerder, Lwazi Nkolonzi, sê die besluit ignoreer die feit dat die fonds lede se bydraes die afgelope twee jaar met meer as 25-persent verhoog het sonder om werkers se finansiële uitdagings in ag te neem:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het ‘n wetsontwerp onderteken om binne 30 dae alle verslae bekend te maak wat met die oorlede seksoortreder Jeffrey Epstein verband hou. Dit volg nadat albei partye in die Kongres die Wet op Deursigtigheid van die Epstein-verslae oorweldigend gesteun het. Trump het op Truth Social te kenne gegee die proses van deursigtigheid in die Kongres is aan hom te danke. Hy het ook die Demokrate beskuldig dat hulle die saak bepleit het om die aandag van sy administrasie se suksesse af te trek.
# Rugby: Die Springbok-vleuel Cheslin Kolbe sê hulle sal Saterdag in Dublin ten volle gebruik moet maak van geleenthede om punte aan te teken teen Ierland. Suid-Afrika het Ierland laas in 2012 op die Aviva-stadion geklop en Saterdag se kragmeting bied ‘n kans om na 13 jaar weer sukses te behaal in die Ierse hoofstad. Kolbe verwag ʼn fisiese wedstryd en beklemtoon hulle sal moet aanpas by die scenario’s wat op die veld uitspeel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 22-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-824-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-73-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….