Nuus 11:00
BULLETIN 17 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Oudminister Dion George word van seksuele wangedrag beskuldig
# Die ANC-Vroueliga sê geslagsgeweld en moord op vroue is ‘n nasionale krisis
# En rugby: Mbonambi en Mchunu sluit in Ierland aan by die Springbokke
# Die voormalige minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, word volgens berigte beskuldig van onder meer seksuele wangedrag. Volgens News24 het personeel hom daarvan beskuldig dat hy sonder waarskuwing ander klere aangetrek het terwyl hy in ‘n kamer met ‘n personeellid was en eksplisiet van sy vorige seksuele ontmoetings vertel het. George het na bewering ook luukse internasionale reise onderneem en was lief vir duur hotelle. Hy het die bewerings ontken en gesê dis ‘n poging om sy reputasie te skaad.
# Die ANC-Vroueliga sê meer moet gedoen word om voorvalle van geslagsgeweld en vrouemoord te bekamp, omdat dit buitensporige vlakke in Suid-Afrika bereik het. Volgens statistieke word daar jaarliks meer as 42-duisend verkragtings en duisende vrouemoorde aangemeld. Die liga se sekretaris-generaal, Nokuthula Nqaba, sê geslagsgeweld en vrouemoord moet as nasionale noodtoestand hanteer word en daar moet aangewese hulpbronne en gekoördineerde reaksie soortgelyk aan dié op natuurrampe wees:
# Die Gautengse Onderwysdepartement het ‘n artikel in die Sunday World met die opskrif, “Matric exams at risk amid alleged Gauteng school security tender corruption – DA”, verwerp. Die artikel bevraagteken die integriteit van die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen in die provinsie ná bewerings van wydverspreide korrupsie in skoolsekerheids-tenders. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê geen berigte is ontvang dat vraestelle of antwoordstelle sedert die begin van die eksamen onder verdenking gekom het nie:
Nuus uit die buiteland:
# President Donald Trump van Amerika het Republikeine in die Huis van Verteenwoordigers gevra om te stem dat die Jeffrey Epstein-lêers bekendgemaak word. Sy ommekeer word daaraan toegeskryf dat talle Republikeine aangedui het hulle is bereid om hierdie week weg te breek wanneer die Huis oor die Epstein Files Transparency Act stem. Trump sê hulle het niks om weg te steek nie en kritiseer die Republikeinse verteenwoordiger, Thomas Massie, wat ʼn mede-ondersteuner van die wetsontwerp is:
# Rugby: Die haker Bongi Mbonambi en die stut Ntuthuko Mchunu het in Ierland by die Springbokke aangesluit terwyl Rassie Erasmus en sy afrigtingspan voorberei vir hul laaste twee kragmetings van die oorsese toer. Erasmus sê hy het besluit om hulle op te roep omdat die toer langer as gewoonlik is en twee groot wedstryde teen Ierland en Wallis voorlê. Die Springbokke het gister uit Italië na Dublin gereis en sal vandag met hul voorbereiding op die veld begin vir Saterdag se wedstryd teen die Iere.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-7-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 22-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-352-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-sewe-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….