Nuus 11:00
BULLETIN 14 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Global Airways sê hy’t nie besef 153 Palestynse passasiers sal toegang tot Suid-Afrika geweier word nie
# Krieket: Kagiso Rabada is ‘n weens besering nie beskikbaar vir die eerste toets teen Indië nie
# En Blue Origin lanseer sy vuurpyl met twee NASA-ruimtetuie onderweg na Mars
# Global Airways sê hulle het alle protokolle gevolg voor hulle op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng geland het met 153 Palestyne wat vlugtelingstatus in Suid-Afrika vra. Die groep was gister 12-uur gestrand nadat hulle toegang geweier is omdat hulle nie vertrek-stempels op hul paspoorte of visums gehad het nie. Hulle is toegelaat om af te klim nadat Gift of the Givers hulle verblyf aangebied het. Global Airways sê hulle het vooraf die passasierslys gedeel en is nooit in kennis gestel dat hulle nie toegelaat sou word nie.
# Die hoofregter se kantoor sê die tussentydse swygbevel teen Open Secrets was ‘n standaard en gepaste maatreël om die status quo te handhaaf tot alle betoë behoorlik aangehoor en oorweeg is. Die bevel spruit voort uit ʼn saak van die pantservoertuig-vervaardiger, Integrated Convoy Protection. Nicole Fritz van Campaign for Free Expression sê hoofregter Mandisa Maya moet riglyne aan regsamptenare uitreik wat ope geregtigheid bevestig en waarsku teen die skadelike uitwerking van swygbevele:
# RISE Mzansi sê die DA se mosie van wantroue in Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, is opportunisties, roekeloos en onverantwoordelik. Die DA het Lesufi beskuldig van swak dienslewering, geen werkskepping of die voorsiening van veiligheid of bevordering van ekonomiese geleenthede nie. RISE Mzansi se nasionale voorsitter, Vuyiswa Ramokgopa, sê die party weier om met mense saam te werk wat met menselewens dobbel vir nuusopskrite en goedkoop politieke punte:
# Krieket: Die Protea-snelbouler Kagiso Rabada is weens ʼn besering nie beskikbaar vir die eerste toets teen Indië wat vanoggend op Eden Gardens in Kolkata begin het nie. Hy het tydens oefening ‘n rib beseer en Corbin Bosch het hom vervang. Indië het besluit om vier draaiboulers in te span. Suid-Afrika se kaptein, Temba Bavuma, het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Albei spanne streef na ʼn positiewe uitkoms in die wedloop na die eindstryd van die Wêreld-toetskampioenskap in 2027.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-8-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 22-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-433-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-173-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-48-sent per vat.
# En ten slotte: Jeff Bezos se Blue Origin het sy New Glenn-vuurpyl met twee NASA-ruimtetuie aan boord suksesvol gelanseer vir sy reis na Mars. Die ESCAPADE-sending is die eerste gekoördineerde wentelende wetenskapsending met meer as een ruimtetuig na die rooi planeet. Die sending se hoofwetenskaplike, Rob Lillis, sê die twee wenteltuie sal ʼn jaar naby die aarde deurbring voor dit met behulp van swaartekrag vertrek om Mars in 2027 te bereik. Hy sê dit sal die planeet se boonste atmosfeer en magneetvelde bestudeer:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….