Nuus 11:00
BULLETIN 13 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voorsitter van die AU-kommissie sê Amerika se boikot van die G20-beraad is ‘n jammerte
# Julius Malema sê die welslae van die beraad sal Trump wys hy is nie die alfa en die omega nie
# En rugby: Suid-Afrika se Sewes-vrouespan is gereed vir die Afrikabekertoernooi in Kenia
# Die voorsitter van die Afrika-Unie-kommissie, Mahamoud Ali Youssouf, sê die Amerikaanse besluit om die komende G20-leiersberaad in Suid-Afrika te boikot, is betreurenswaardig. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het verlede week gesê Suid-Afrika behoort nie in die G20 te wees nie weens sy beweerde menseregte-misbruik teen die wit Afrikaner-gemeenskap. Die regering het dit verwerp. Youssouf sê Suid-Afrika bied die beraad as mylpaal aan en dit wys die land se groeiende rol in globale staatsbestuur:
Die EFF-leier, Julius Malema, sê intussen die beraad sal ‘n sukses wees al woon Amerika dit nie by nie. Hy glo dit sal Trump wys hy is nie die begin en einde van die wêreld nie. Malema sê Trump weet daar is nie volksmoord in die land nie:
# Die energiereguleerder Nersa sê alle munisipale elektrisiteitstariewe vir 2025/26 bly geldig ondanks AfriForum se hofsaak. Die Hooggeregshof in Pretoria oorweeg steeds AfriForum se voorgestelde tydlyne vir tariefvoorleggings. ‘n Finale besluit word Dinsdag verwag. Charles Hlebela van Nersa sê die reguleerder het ‘n volledige openbare raadplegingsproses gevolg, insluitend ‘n kommentaarperiode van 30 dae, en al 177 munisipaliteite het die eerste keer in 20 jaar tariefaansoeke ingedien gegrond op behoorlike koste van voorsieningsondersoeke.
# Burgerlike organisasies vra ʼn forensiese ondersoek na die plaaswerker-aandeleskemas. Die skemas is bedoel om plaaswerkers ekonomies te ondersteun deur hulle as vorm van maatskaplike opheffing en hervorming aandele te gee in die plase of landbou-ondernemings waar hulle werk. Van die 88 skemas wat tussen 1996 en 2008 gestig is, het slegs nege nog ooit dividende verklaar. Die organisasies het aan die Parlement gesê ondanks meer as 700-miljoen-rand se openbare beleggings het baie min van hierdie skemas enige betekenisvolle voordele vir plaaswerkers gelewer.
# Rugby: Die waarnemende hoofafrigter van die Springbok-vrouesewespan, Cecil Afrika, sê hy het vertroue in die spelers wat hy gekies het vir die naweek se Afrikabekertoernooi in Kenia. Suid-Afrika is in Groep A saam met Zambië, Ghana en Egipte, en moet onder die top-twee eindig om op koers te bly om vir die Sewes-uitdaagreeks te kwalifiseer. Nadine Roos is kaptein van die groep van 12. Afrika sê hulle is in beheer van hul eie lot en gereed vir die uitdaging:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-4-sent teen die dollar, 19-rand-75-sent teen die euro en 22-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-913-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-216-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….