Nuus 11:00
BULLETIN 12 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula vra ‘n ondersoek na hoe 17 Suid-Afrikaners in die Oekraïns-Russiese oorlog beland het
# Bondgenote van die Britse eerste minister sê pogings om hom uit kussings te lig is roekeloos
# En motorsport: Wolff wil glo van sy aandele in Mercedes se Formule Een-span verkoop
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het die regering gevra om geen steen onaangeroer te laat om vas te stel onder wie se gesag 17 Suid-Afrikaners gewerf is om in die Oekraïns-Russiese oorlog te veg nie. Die mans, wat vasgekeer is in die oorloggeteisterde Donbas-streek inn Oekraïne, is glo gewerf as huursoldate. Volgens News24 het die mans in die gevegsone beland nadat hulle na bewering deur Jacob Zuma se MK-party na Rusland gestuur is. Mbalula sê hierdie saak moet dringend aandag kry:
Die MK-party sê intussen hy verwag dat die mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring sal wegbeweeg van besnoeiings en mislukte neo-liberale beleide wat volgens hom Suid-Afrika in ‘n staat van ekonomiese verlamming dompel. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, lewer vanmiddag die begroting in die Nasionale Vergadering. Die MK-party se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, sê hulle vra grootskaalse belegging in infrastruktuur, industrialisasie en openbare indiensnemingsprogramme soos die Presidensiële Indiensnemingstimulus:
# Die Universiteit van die Witwatersrand het ‘n pasverkose Studenteraadslid geskors hangend die uitslag van ‘n ondersoek nadat hy daarvan beskuldig is dat hy ‘n vroulike student verkrag het. ‘n Medestudent het die voorval by die universiteit se Geslagsgelykheidskantoor aangemeld. Wits se woordvoerder, Shirona Patel, sê hulle veroordeel alle vorms van geslagsgeweld en herbevestig hul onwrikbare toewyding om ‘n veilige, inklusiewe en sosiaal-regverdige omgewing vir alle studente te skep:
Nuus uit die buiteland:
# Die Britse eerste minister, Keir Starmer, se mees senior politieke bondgenote waarsku enige poging om hom uit te dwing sal roekeloos en gevaarlik wees en die markte en die Arbeidersparty skaad. Sommige partylede beplan glo om Starmer te verwyder. Daar is reeds moontlike kandidate om hom te vervang, insluitend sy nouste bondgenote in die kabinet soos die ministers van Binnelandse Sake en van Gesondheid, Shabana Mahmood en Wes Streeting. Starmer se senior politieke raadgewers sê hy sal eerder vir sy leierskap veg as om opsy te staan.
# Motorsport: Die uitvoerende en spanhoof, Toto Wolff, onderhandel glo om ʼn deel van sy aandeel in Mercedes se Formule Een-span te verkoop. Die ooreenkoms waardeer Mercedes op ʼn rekord-bedrag van 104-miljard-rand. Wolff besit ‘n derde van die span. Hy beplan volgens berigte om ʼn buite-belegger te nader wat ʼn aandeel van sowat vyf-persent sal koop terwyl die 53-jarige Wolff in sy rolle aanbly. Mercedes het van 2014 tot 2021 agt agtereenvolgende vervaardigerstitels gewen en is vanjaar tweede ná 21 wedrenne.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 22-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-502-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-123-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….