Nuus 11:00
BULLETIN 18 Januarie 11vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Onafhanklike Eksamenraad spog met ‘n indrukwekkende matriekslaagsyfer van 98,46-persent
# Ses verdagtes sterf in ‘n skietgeveg met die polisie in Inanda, KwaZulu-Natal
# En tennis, Alexander Zverev en Iga Świątek veg om na die derde ronde van die Australiese Ope deur te dring
# Die Onafhanklike Eksamenraad spog met ‘n matriekslaagsyfer van 98,46-persent vir die 2023 akademiese jaar, wat ʼn effense verbetering is teenoor die 2022-syfer van 98,42-persent. Minstens 88,59-persent van die matriekkandidate het matrikulasievrystelling gekry. Altesaam 15-duisend-180 kandidate van die land se privaat skole het die raad se matriekeksamen geskryf. Carlisle Hartman van die Cornwall Hill College in Pretoria het 12 onderskeidings behaal. Die raad se uitvoerende hoof, Confidence Dikgole, het aan die SABC gesê hierdie uitslae is indrukwekkend:
# Die minister van die Staatsdiens en Administrasie, Noxolo Kiviet, sê die proses om leefstyl-oudits in die Staatsdiens uit te voer, moet nog geëvalueer word om vas te stel of dit doeltreffend is om bedrog en korrupsie te voorkom en op te spoor. Die departement se eenheid vir Etiek, Integriteit en Dissiplinêre Tegniese Bystand het onthul dat sewe-duisend-856 lede van die regering se senior bestuursdiens sedert Maart verlede jaar aan leefstyl-beoordelings onderwerp is. Altesaam 157 gevalle waarby senior bestuurslede betrek word, is deur verskeie departemente verwys vir leefstylondersoeke. Slegs 36 uit 44 nasionale departemente het leefstyl-beoordelings gedoen.
# Ses verdagtes is vanoggend in die vroeë oggendure in die berugte Inanda-township noord van Durban dood tydens ʼn skietgeveg met die polisie. Die polisiewoordvoerder, Jay Naicker, sê hulle het inligting opgevolg oor waar die verdagtes hulle bevind. Hulle is gesoek vir ʼn vlaag huis- en sakerooftogte, moorde en voertuigkapings. Hy sê toe hulle by die huis in Emachobeni aankom, het die verdagtes op die polisie losgebrand:
# Pakistan het ‘n reeks militêre aanvalle teen militante in Iran uitgevoer, met drie vroue en vier kinders wat volgens berigte dood is. Die aanvalle was glo uit weerwraak vir Dinsdag se aanvalle deur Teheran, waartydens ‘n Soennitiese separatistiese militante groep binne Pakistan se grense geteiken is. Twee mense is in die aanval dood. Pakistan se ministerie van Buitelandse Sake sê hy respekteer Iran se soewereiniteit en gebiedsintegriteit ten volle, maar is vasberade om sy nasionale veiligheid sonder huiwering teen alle bedreigings te beskerm en te verdedig.
# Tennis: Die wêreld-nommer-ses, Alexander Zverev, het die Slowaakse kwalifiseerder Lukas Klein verslaan en voorkom dat hy twee keer na mekaar in die tweede ronde van die Australiese Ope uitgeskakel word. Die Duitser het in vyf stelle gewen. Casper Ruud van Noorweë het die Australiër Max Purcell ook in vyf stelle verslaan. In die vroueafdeling het Iga Świątek verhoed dat sy vroeg uitval toe sy die Amerikaner Danielle Collins na ʼn taai stryd in drie stelle geklop het. Die Poolse speler sê dit was ʼn moeilike wedstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-95-sent teen die dollar, 20-rand-67-sent teen die euro en 24-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-857-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-13-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….