Nuus 11:00
BULLETIN 2 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die sekretaris-generaal van die ANC Fikile Mbalula vra onmiddellike arrestasies te midde van die Madlanga-kommissie-verhoor
# Die handelsreus Walmark stel sy eerste winkel in Afrika in Johannesburg bekend
# En in tennis: Dis Auger-Aliassime teen Sinner in die eindstryd van die Parys-meesters
# Die sekretaris-generaal van die ANC Fikile Mbalula het wetstoepassingsagentskappe aangemoedig om vinnig op te tree en mense te arresteer as daar bewyse is en nie te wag vir die Madlanga-kommissie om klaar te maak nie. Mbalula se standpunt verskil van die ANC se siening in Julie toe die regsproses beklemtoon is. Die kommissie ondersoek korrupsie en politieke inmenging in die Suid-Afrikaanse regstelsel. Mbalula het by die OR Tambo Gedenklesing in die Oos-Kaap gesê onmiddellike aanspreeklikheid is noodsaaklik:
# Die voormalige Nasionale Kommissaris van Polisie Riah Phiyega het alle bewerings oor besoeke deur die omstrede sakeman Vusimuzi ‘Cat’ Matlala aan haar huis voordat hy in hegtenis geneem is, ontken. Die bewerings is gemaak deur ‘n speurder bekend as ‘Getuie C’ tydens die Madlanga-kommissie-verhoor. Phiyega hou vol sy het Matlala nooit ontmoet nie en het formele leiding gevra om die getuienis te beveg. Die kommissie gaan voort om politieke inmenging en korrupsie in die Suid-Afrikaanse Polisiediens te ondersoek.
# Die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap ontwikkel ‘n interne kunsmatige intelligensiebeleid om jeuggeleide besighede in die digitale ekonomie te befonds. Adjunkvoorsitter Bonga Makhanya sê die agentskap wil met regeringsinstellings saamwerk om tegnologiese groei te bevorder, aangesien baie jongmense in tegnologie nie ondersteuning het om hul besighede te ontwikkel nie. Hy het aan SABC News beklemtoon KI sal die agentskap se dienslewering en interne prosesse verbeter en jeugontwikkelingsinisiatiewe versterk:
# Die handelsreus Walmark het sy debuut in Afrika gemaak met die opening van sy eerste handelsmerkwinkel in die Clearwater-winkelsentrum in Johannesburg. Die winkel word deur Massmart bestuur en, stel die winkel die filosofie van “Lae Pryse Elke Dag” aan Suid-Afrika bekend. Die uitvoerende bestuurder van Massmart, Miles van Rensburg, sê die bekendstelling begin ‘n nuwe en betekenisvolle hoofstuk in Suid-Afrikaanse handel. Die winkelbestuurder Onicca Mothapo het 20 jaar verkoopsondervinding en sê dis ‘n droom wat waar geword het om Walmart se eerste tak in Afrika te lei.
# ‘n Agt-en-dertigjarige vrou is van medepligtigheid aan georganiseerde diefstal en kriminele sameswering aangekla in die Louvre juweeldiefstal in Parys. Sy is een van sewe mense wat in hegtenis geneem is vir die diefstal op 19 Oktober terwyl die wêreldberoemde museum vir besoekers oop was. Vier diewe het in agt minute nege items met ‘n beraamde waarde van 1,7-miljard-rand gesteel. Die diefstal het groot leemtes in die sekuriteitstelsel by die Louvre uitgewys. Die hoof van polisie in Parys, Patrice Faure, het aan politici gesê verouderde sekuriteitstelsels het swak plekke gelaat.
# En ten slotte tennis: Jannik Sinner het een oorwinning nodig om weer nommer een op die wêreldranglys te word, nadat hy Alexander Zverev Saterdag in die halfeinstryd van die Parys-meesters geklop het, om in die einstryd teen Felix Auger-Aliassime te staan te kom. Sinner sal sy groot teenstander Carlos Alcaraz bo-aan die ranglys vervang as hy Auger-Aliassime later vandag klop. Die Kanadees en Sinner het elk twee van hul vier vorige ontmoetings gewen, maar Sinner het die laaste twee gewen, waaronder vanjaar se Amerikaanse Ope-halfeindstryd. Die viermalige Grand Slam-kampioen het nou 25 agtereenvolgende wedstryde op binnenshuise harde bane gewen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….