Nuus 11:00
BULLETIN 1 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Malawiese Hooggeregshof keer Bushiri-egpaar se uitlewering aan Suid-Afrika
# AfriForum behaal ’n oorwinning teen Nersa, hof bevind die tariefgoedkeuring is ongrondwetlik
# En, ’n naelskraapse oorwinning wag op die gematigde Rob Jetten in die Nederlandse verkiesing
# Die Hooggeregshof in Lilongwe, Malawi, het ‘n landdros se besluit om die pastore, Sheppard en Mary Bushiri aan Suid-Afrika uit te lewer, omgekeer. Die egpaar wat aanklagte van bedrog, diefstal en geldwassery in die gesig staar, het in 2020 uit Suid-Afrika gevlug terwyl hulle uit was op borgtog. Die hof het bevind hulle is die reg om gehoor te word, geweier en het ook onreëlmatighede in die uitleweringsproses gevind. Die Bushiri’s hou vol hulle sal slegs teregstaan indien regverdigheid gewaarborg word.
# Adjunkpresident Paul Mashatile het die regering se verbintenis tot hervormende beleide soos breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging herbevestig. Mashatile het by die eerste Jeug-beleggingsindaba in Johannesburg werkloosheid onder die jeug uitgelig en entrepreneurship as oplossing genoem. Hy het ʼn Transformasiefonds van 100-miljard-rand en die Nasionale Jeugfonds bekendgestel om swart sakeondernemings en jeug-geleide ondernemings te ondersteun. Hy moedig samewerking aan tussen die regering, privaat sektor en maatskaplike vennote om inklusiewe groei te bevorder:
# Die Hooggeregshof in Pretoria het bevind Nersa se proses om munisipale elektrisiteitstariewe goed te keur, is ongrondwetlik. Die hof het beslis Nersa het versuim om behoorlike kostebepalings te doen en openbaredeelname-prosesse te volg. AfriForum het die saak met koste gewen en nuwe sperdatums vir openbare deelname verseker voor tariewe goedgekeur word. Die hof het Nersa beveel om besluite teen Mei 2026 af te handel. Deidré Steffens van AfriForum sê die uitspraak is ʼn oorwinning vir alle elektrisiteitsverbruikers:
Eskom sê intussen Suid-Afrika se kragnetwerk was in Oktober betroubaar met die energiebeskikbaarheidsfaktor op 65,9-persent wat 3,66-persent beter is as verlede jaar. Koeberg Eenheid 1 is weer aan die netwerk gekoppel wat ladingsvermoë verbeter het terwyl dieselgebruik skerp gedaal het. Onbeplande onderbrekings het met een-duisend-69 megawatt afgeneem teenoor dié in 2024. Eskom-woordvoerder Daphne Mokwena het 168 agtereenvolgende dae sonder beurtkrag bevestig en sê hulle beplan om teen spitstyd Maandagaand twee-duisend-400 megawatt op die netwerk terug te plaas:
# Die gematigde liberale leier, Rob Jetten, het na alle waarskynlikheid Woensdag se Nederlandse verkiesing gewen. Ontleders sê sy party kan nie meer verloor teen die teen-Islam, populistiese Geert Wilders nie. Jetten se D66-party het ʼn skraal voorsprong van 15-duisend stemme teenoor Wilders se Vryheidsparty en die Nederlandse nuusagentskap ANP sê selfs al is die stemme nog nie klaar getel nie, kan Wilders nie meer wen nie. Indien Jetten eerste minister word, sal hy die eerste openlik gay en ook die jongste in Nederland se geskiedenis wees.
# Tennis: Jannik Sinner is na sy gemaklike oorwinning gister oor Ben Shelton in die Paryse Meesters se kwarteindronde weer ʼn stap nader aan die eerste plek op die wêreldranglys. Die Italianer het sy vyfde gekeurde teenstander met 6-3, 6-3 verslaan en kom nou teen die verdedigende kampioen, Alexander Zverev te staan nadat dié 2-6, 6-3, 7-6 met Daniil Medvedev afgereken het. Sinner sal probeer voordeel trek uit sy teenstander Carlos Alcaraz se skoknederlaag teen Cameron Norrie in die tweede ronde. Hy sal Alcaraz op die ranglys verbysteek indien hy die titel in Parys wen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….