Nuus 11:00
BULLETIN 31 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Amerika word gekritiseer oor sy drastiese beperking op vlugtelinge en voorkeur aan wit Suid-Afrikaners
# Die DA vra Ramaphosa om die volksmoord in Soedan te veroordeel
# En sokker: Desiree Ellis verbind haar nog vier jaar tot Banyana Banyana
# President Donald Trump van Amerika se administrasie word gekritiseer oor sy besluit om die getal vlugtelinge na die land tot sewe-duisend-500 per jaar te beperk. Dié syfer was verlede jaar 125-duisend onder oudpresident Joe Biden. Trump sê wit Afrikaners uit Suid-Afrika en ander slagoffers van onwettige en onregverdige diskriminasie sal voorkeur kry. Die Internasionale Vlugtelinghulp-projek sê die administrasie verpolitiseer ‘n humanitêre program deur voorkeur te gee aan Afrikaners terwyl duisende vlugtelinge wat alreeds goedgekeur is, verban word.
# Die DA vra president Cyril Ramaphosa om dringend met die Afrika Unie te skakel om met onderhandelings vir ‘n skietstilstand tussen die Weermag en die paramilitêre Rapid Support Forces in Soedan te begin. Die konflik wat in April 2023 begin het, het reeds die lewens van 20-duisend mense geëis. Ryan Smith van die DA sê as die ondersteuningsmag se poging tot volksmoord nie aandag kry nie, lyk Suid-Afrika erg skynheilig in die lig van sy reaksie op soortgelyke konflikte in ander dele van die wêreld:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê die sewende Parlement het die gereedskap en openbare steun om vertroue in demokratiese instellings te herbou, maar toesig is dikwels sonder enige uitwerking. Volgens OUTA se sewende jaarlikse parlementêre toesigverslag is komitees se bevindings oor korrupsie en wanbestuur dikwels sonder enige tasbare optrede. Rachel Fischer van OUTA beveel ses hervormings aan, onder meer sterker verantwoordbaarheid, beter samewerking tussen komitees en prestasie-rapporte, om te verseker die Parlement se werk word omskep in tasbare uitslae vir landsburgers:
# Sokker: Desiree Ellis gaan Banyana Banyana nog vier jaar afrig nadat sy haar kontrak tot 2029 verleng het. Sy het na die Olimpiese Spele van 2016 oorgeneem by haar voorganger, Vera Pauw. Safa se president, Danny Jordaan, sê Ellis kan Suid-Afrika nou begin voorberei vir volgende jaar se Afrikabekertoernooi vir vroue nadat hulle vroeër die week gekwalifiseer het. Hy sê hulle moet Banyana ook herbou en kyk na alternatiewe en jonger spelers vir die toekoms.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-1-sent teen die euro en 22-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-455-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-11-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-97-sent per vat.
# En ten slotte: Time Out het sy lys van die 20 Vriendelikste Stede ter Wêreld vir 2025 bekend gemaak, met Kaapstad wat ook op die lys is. Hierdie stede staan uit vir hul warmte, gasvryheid en verwelkomende gees. Die wêreldwye opname het bevind dat mense van Porto, Portugal, die vriendelikste is vergeleke met enigiemand anders ter wêreld. Porto was ook vierde vir skoonheid en 12de vir geluk. Bilbao in Spanje is tweede, Medellin in Colombië derde, Kaapstad vierde en Lagos in Nigerië vyfde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….