Nuus 11:00
BULLETIN 30 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Mashatile gaan vandag mondelinge vrae in die Parlement beantwoord
# Agt mense sterf in ’n minibustaxi-botsing op die N3 in die Vrystaat
# En rugby: Jan-Hendrik Wessels se skorsing word met net aan week verminder
# Adjunkpresident Paul Mashatile sal vanmiddag mondelinge vrae in die Nasionale Vergadering beantwoord. Hy sal vrae hanteer oor dienslewering, betaling van munisipale skuld aan Eskom, grondhervorming en die regering se benadering tot die oneweredig hoë voorkoms van MIV onder vroue en meisies. Mashatile sal ook ‘n bywerking gee oor die multi-sektorale samewerking en intelligensie-gedrewe strategieë van die regering om die toename van bendebedrywighede in bedwang te hou, veral in die Wes-Kaap.
# Die Departement van Basiese Onderwys sê die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen verloop glad en geen ernstige voorvalle is aangemeld nie. Daar is vanjaar 766-duisend voltydse kandidate wat die eindeksamen aflê, die hoogste sedert 1996. Die matriekeksamen het op 21 Oktober afgeskop met die praktiese eksamen vir Rekenaartoepassings-tegnologie. Die eksamen eindig op 26 November. Die departement se woordvoerder, Terrence Khala, sê sowat ‘n kwart van die 112 eksamenvraestelle is reeds geskryf:
# Minstens agt mense is vanoggend dood in ʼn botsing tussen ʼn minibustaxi en ʼn vragmotor op die N3-hoofweg tussen Van Reenenspas en Montrose in die Vrystaat. Talle mense is beseer. Die hoofweg is gesluit. Die woordvoerder van die KwaZulu-Natalse Departement van Vervoer, Ndabezinhle Sibiya, sê die presiese oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, sê tariewe op Chinese goedere sal van 57- tot 47-persent verlaag word. Hy en die Chinese leier, Xi Jinping, het in Suid-Korea ontmoet. Trump het aan boord van Air Force One met joernaliste gepraat na sy besoek aan drie Asiatiese lande. Hy sê hy sal fentaniel-verwante tariewe van 20- tot 10-persent verlaag. Hy sê dat hy ‘n ooreenkoms van een-jaar met China bereik het oor skaars grondstowwe en ander belangrike minerale. Trump het die ontmoeting as ‘n groot sukses beskryf.
# Rugby: Die Springbok- en Bulle-stut, Jan-Hendrik Wessels, se appèl teen sy skorsing van nege weke het misluk, maar dis wel met een wedstryd verkort. Hy is gestraf nadat Connacht se flank, Josh Murphy, hom beskuldig het dat hy hom twee weke gelede betas het tydens ʼn Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd. ʼn VRK-appèlpaneel het bevind die tugpaneel het fouteer met die skorsing van nege weke en nie Wessels se gedrag in ag geneem nie. Hy sal die Springbokke se jaareindtoer en die Bulle se twee Kampioenebeker-wedstryde teen Bordeaux en Northampton misloop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-98-sent teen die euro en 22-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-714-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-973-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….