Nuus 11:00
BULLETIN 29 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling vra die herontwerp van maatskaplike toelaes
# ‘n Man word vasgetrek nadat 20-miljoen-rand se kokaïen in Midrand, Gauteng, ontdek is
# En krieket: Die Protea-vroue hoop dis derde keer skeepsreg teen Engeland vandag
# Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, sê toelaes moet verander word van armoedeverligting na strategiese maniere van maatskaplike beskerming. Meer as 20-miloen Suid-Afrikaners is afhanklik van maatskaplike toelaes om armoede, werkloosheid en ongelykheid te verlig. Tolashe het drie pilare uitgewys wat toelaes kan omskakel van armoedeverligting tot maatskaplike beskerming. Dit erken dat maatskaplike toelaes ‘n grondbeginsel is, dit herontwerp toelaagverspreiding en vestig skakels tussen die verspreiding van maatskaplike toelaes en die informele ekonomie.
# Die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika sê die staalsektor gaan vinnig agteruit, wat ernstige kommer oor die ekonomie laat ontstaan. Die aantal werkgewers het oor die afgelope vyf jaar met 12-persent gedaal en indiensneming met 23-persent, wat beteken 110-duisend mense het hul werk verloor. Gerhard Papenfus van NEASA gee hoë lone, regeringsinmenging, hoë tariewe, misdaad, korrupsie en swak infrastruktuur die skuld. Hy doen ‘n beroep vir beslissende leierskap om verdere werkverliese te voorkom en die sektor te laat herleef.
# ʼn Ses-en-vyftigjarige man is aangekeer nadat die polisie by sy huis in Midrand, Gauteng, beslag gelê het op 20-miljoen-rand se kokaïen. Die polisie het tydens ʼn misdaadintelligensie-operasie inligting opgevolg oor dwelms wat op ʼn kleinhoewe in Blue Hills geberg word. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê hulle het in ʼn pakkamer op die versteekte kokaïen afgekom:
Nuus uit die buiteland:
# Minstens 33 mense, insluitend kinders, is gister dood in Israelse lugaanvalle in Gaza. Dit volg nadat eerste minister Benjamin Netanyahu die Weermag opdrag gegee het om onmiddellik verskerpte aanvalle uit te voer. Hy beskuldig Hamas van die dood van ‘n soldaat en die kamma-ontdekking van ‘n gyselaar se liggaam. Hamas veroordeel wat hy noem Israel se misdadige bombardement wat die wapenstilstands-ooreenkoms skend. ‘n Woordvoerder van die Israelse regering, David Mencer, het aan Sky News gesê hulle bly verbind tot die skietstilstand:
# Krieket: Die Protea-vroue hoop dis ‘n geval van derde keer skeepsreg wanneer hulle vandag weer teen Engeland speel in ‘n Wêreldbeker-halfeindstryd. Suid-Afrika het teen Engeland verloor in die voorlaaste rondes van die vorige twee eendag-Wêreldbekertoernooie. Boonop het Engeland die Proteas met ‘n volle tien paaltjies verslaan in hulle eerste wedstryd in vanjaar se toernooi. Die top-orde kolwer Suné Luus sê hulle sal nie toelaat dat die statistiek hulle vandag in Guwahati, Indië, beïnvloed nie. Sy sê hulle fokus slegs op die oorwinning deur goeie krieket te speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-96-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-279-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-998-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….