Nuus 11:00
BULLETIN 24 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Trump se keuse vir Suid-Afrikaanse ambassadeur sal druk plaas op die regering oor sy beleid van onverbondenheid
# Skoor se voorsitter vra die Padongelukkefonds om buitelanders uit te sluit
# En gimnastiek: Indonesë verdedig sy besluit om Israelse atlete te verhoed om die wêreldkampioenskap by te woon
# Amerika se aangewese ambassadeur na Suid-Afrika, Leo Brent Bozell, sê een van sy vernaamste take sal wees om besware oor te dra oor Suid-Afrika se geo-strategiese wegbeweeg van onverbondenheid na Amerika se mededingers soos Rusland, China en Iran. Hy het behoorlik onder skoot gekom tydens sy bevestigingsverhoor voor die Senaat se komitee vir Buitelandse Betrekkinge. Bozell sê hy sal ook druk plaas op Suid-Afrika om sy saak teen Israel in die Internasionale Strafhof te laat vaar:
# Die voorsitter van die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge, Songezo Zibi, het gevra dat buitelanders uitgesluit word van uitbetalings van die Padongelukkefonds. Zibi sê die huidige wetgewing moet gewysig word aangesien dit enige persoon wat in Suid-Afrika in ‘n padongeluk beseer is, toelaat om te eis. Hy sê die komende Wetsontwerp op die Padongelukke-voordeleskema sal hierdie hervormings insluit, ná openbare raadpleging:
# Die GOOD-party sê die nasionale regering se versuim om wetstoepassingsmagte behoorlik te reguleer ingevolge Artikel 334 van die Strafprosesreg, het ‘n vakuum geskep. Dit volg ná die Gautengse regering se besluit om die misdaadvoorkomings-eenheid te ontbind. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die party meen die DA is oneerlik en wil bloot politieke munt slaan deur sy teenkanting. Hy sê die DA se eie Wetstoepassings-bevorderingsplan in die Wes-Kaap kos belastingbetalers reeds meer as vier-miljard-rand:
# Bykans 37-duisend migrante het tot dusver vanjaar met klein bote in die Verenigde Koninkryk aangekom, terwyl die regering nuwe druk ervaar oor pogings om die vaarte te verhoed. Altesaam 36-duisend-954 ongedokumenteerde migrante het tot dusver vanjaar die Engelse Kanaal oorgesteek van Noord-Frankryk na die Engelse suidkus, in vergelyking met 36-duisend-816 vir die hele 2024. Die getalle sal ‘n groot hoofpyn wees vir die Britse eerste minister, Keir Starmer, wat beloof het om die bendes mensesmokkelaars wat migrante enorme bedrae geld vir die gevaarlike vaarte vra, te vernietig.
# Gimnastiek: Indonesië sê hy het besluit om Israelse atlete van die wêreldkampioenskap in Jakarta te verbied ter wille van openbare orde, veiligheid en die openbare belang. Die Israelse atlete is visums geweier weens die oorlog in Gaza. Die Internasionale Olimpiese Komitee het daarna alle internasionale sportfederasies aangemoedig om geen byeenkomste aan te bied in die Asiatiese land met die wêreld se grootste Moslem-meerderheid nie. Indonesië se minister van Sport, Erick Thohir, sê die besluit is gegrond op die land se Grondwet en sy verpligting om wêreldorde te handhaaf.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-30-sent teen die dollar, 20-rand-9-sent teen die euro en 23-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-366-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-92-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….