Nuus 11:00
BULLETIN 23 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Sakeliga kritiseer die regering se poging om ses grondwetlike uitdagings teen die Wet op die Nasionale Gesondheidsversekering te keer
# Rise Mzansi sê minister Mchunu het Misdaadintelligensie lamgelê
# En sokker: Banyana speel gelykop teen die DRK in ‘n Afrikabeker-kwalifiseerder
# Die drukgroep Sakeliga het ‘n voorwaardelike teenaansoek in die Hooggeregshof ingedien teen die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, se poging om ses grondwetlike uitdagings teen die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering te stuit. Die minister voer aan staatsbronne moet beskerm word terwyl die prosedurele uitdagings in die hof beslis word. Sakeliga sê die minister se optrede sal die wet met sy ernstige gebreke teen regshersiening beskerm terwyl dit steeds die publiek benadeel.
# Rise Mzansi sê die minister van Polisie, Senzo Mchunu, se besluit om die vul van poste by Misdaadintelligensie te staak, het die Suid-Afrikaanse Polisiediens se vermoë verswak om misdaad te bekamp. Makashule Gana van die party sê die bevriesing het 18 poste geraak, insluitend senior bestuurders en sosiale media-spesialiste, in sleutelprovinsies soos KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en die Wes-Kaap, wat die swaarste getref is deur georganiseerde misdaad, politieke moorde en bendegeweld:
# Die DA sê die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, se besluit om die Amapanyaza-misdaadvoorkomingsbeamptes te ontbind vir heropleiding as verkeersbeamptes, bewys die DA se jarelange waarskuwings was reg. Die DA voer aan die bewaarders is nooit behoorlik opgelei of befonds nie. Die DA se Gautengse leier, Solly Msimanga, eis duidelikheid oor die akkreditasie, befondsing en hoe die heropleiding ingestel sal word:
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies het die Seville-skuldforum bekend gestel vir regverdiger uitleen, vinniger herstrukturering en ‘n langtermynhervorming van die na-oorlogse finansiële stelsel. Sowat 3,4-miljard mense leef in lande wat meer aan diensskuld as aan gesondheid of opvoeding bestee. Die VN se sekretaris-generaal, António Guterres, sê meer as 60 ontwikkelende lande bestee nou ten minste tien-persent van regeringsinkomste aan rente-betalings en baie ander ondervind minder toegang tot bekostigbare krediet:
# Sokker: Banyana Banyana en die Demokratiese Republiek die Kongo het gelykop gespeel in hulle eerste Afrikabeker-kwalifiseerder in Kinshasa. Kgalebane Mohlakoana het Suid-Afrika ʼn voorsprong gegee, maar Ruth Kipoyi Monique het die telling net voor rustyd gelykop gemaak. Nie een span kon in die tweede helfte met ʼn doel slaag nie. Hoewel die uitslag gelykop was, spog Banyana Banyana met die belangrike weg-doel. Die tweede wedstryd vind Dinsdag in Johannesburg plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-37-sent teen die dollar, 20-rand-15-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-80-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-115-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….