Nuus 11:00
BULLETIN 19 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Motsepe sê hy wil nie ANC-president word nie
# Mbalula sê getuienis voor die Madlanga-kommissie beteken nie jy is skuldig nie
# Paul O’Sullivan dagvaar op sy beurt Mkhwanazi vir 10-miljoen-rand
# Die miljardêr-sakeman en CAF-president Patrice Motsepe sê hy sal nie vir die ANC-presidentskap in 2027 staan nie, ten spyte daarvan dat hy deur partylede genader is. Motsepe het tydens die SANEF-galadinee in Johannesburg gesê Suid-Afrika het nie ‘n ryk man as president nodig nie, maar eerder bekwame, talentvolle mense. Hy sê die presidentskap is ‘n heilige roeping, en het sy voortgesette steun vir die ANC belowe en vertroue in die land se toekoms uitgespreek:
# Die ANC se sekretaris-generaal Fikile Mbalula het die Malanga-kommissie geprys en beklemtoon dat ‘n kommissie van ondersoek nie skuld uitwys nie. Mbalula het by die Mpumalanga Algemene Provinsiale Raad gesê Suid-Afrikaners verdien antwoorde en die regering moet reageer op kwessies wat geopper word. Hy het lede versoek om nie deur kritici mislei te word nie en herbevestig dat alle kante aangehoor moet word en dat die ANC beslissend moet optree sodra die kommissie se bevindinge afgehandel is:
# Die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan het ‘n teeneis van tien-miljoen-rand vir laster teen die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, ingedien. Die stap volg na Mkhwanazi se regsgeding van vyf-miljoen-rand waarin hy beweer O’Sullivan het sy reputasie met korrupsie-aantygings geskend. O’Sullivan eis ‘n terugtrekking van verklarings wat by die Madlanga-kommissie en ad hoc-komitee gemaak is, en noem dit wilde verdigsels wat ernstige reputasie- en finansiële skade veroorsaak. Dit volg terwyl ondersoeke na korrupsie en politieke inmenging in die Suid-Afrikaanse Polisiediens voortduur.
# Groot skares het gister in groot Amerikaanse stede opgeruk, terwyl kleiner byeenkomste regoor die land gehou is vir die “No Kings“-optogte teen president Donald Trump se administrasie. Volgens CNN het die meer as twee-duisend-500 geleenthede waarskynlik miljoene gelok. Organiseerders sê Trump lei ‘n toenemend gemilitariseerde en outoritêre regime. Voortdurende ICE-klopjagte en troepe-ontplooiings in Demokraties-geleide state het die verontwaardiging vererger. Die betogings het plaasgevind teen die agtergrond van ‘n sluiting van die federale regering, met die Withuis in konflik met Demokrate oor ‘n befondsingswetsontwerp.
# Sportnuus:
# Motorsport: Max Verstappen het die beste gemaak van ‘n botsing tussen die twee McLaren-jaers in die eerste draai om gister se snelren by die Verenigde State se Grand Prix te wen en Oscar Piastri se voorsprong met agt punte te verminder. Die viermalige wêreldkampioen het sy voorste wegspringplek in die snelren by die Circuit of the Americas in ‘n derde agtereenvolgende snelrenoorwinning omskep, en daarmee die gaping tussen hom en Piastri tot 55 punte verminder. Verstappen is gevolg deur George Russell van Mercedes in die tweede plek en Carlos Sainz van Williams derde. Lewis Hamilton was vierde nadat hy sy Ferrari-spanmaat Charles Leclerc slim verbygesteek het.
# En tennis: ’n Foutlose Jannik Sinner het Carlos Alcaraz verslaan om die Six Kings Slam-vertoontoernooi in Saoedi-Arabië te wen. Die Six Kings Slam tel nie vir ranglys of kop-aan-kop-rekords nie. Sinner wou wraak neem na sy vernederende nederlaag in die Amerikaanse Ope-eindstryd verlede maand. Sy verbeterde afslane het ’n ernstige boodskap aan die wêreld se nommer-een gestuur toe hy ’n klinkklare 6-2 6-4 oorwinning behaal het. Novak Djokovic het vroeër weens beserings uit sy derdeplek-wedstryd teen die Amerikaner Taylor Fritz onttrek nadat hy ‘die ‘n marathon-eerste stel van 75 minute verloor het. Daar bestaan nou twyfel oor die res van sy seisoen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….