Nuus 11:00
BULLETIN 16 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership South Africa waarsku teen populistiese politiekery in aanloop tot die verkiesing
# Sekunjalo Investment Holdings gaan president Ramaphosa en ander staatsliggame vir 75-miljard-rand dagvaar
# En, Donald Trump vra eenheid nadat hy die Iowa-koukusse wen
# Business Leadership South Africa glo daar is ‘n groot gevaar dat populistiese beleide in aanloop tot die verkiesing deur die Parlement gedruk sal word, om as propaganda in vanjaar se nasionale verkiesing te gebruik. Die sakeorganisasie se uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, sê politieke veldtogte kan die aandag aflei van die proses om die land te regeer, veral terwyl die land vordering nodig het te midde van groot ekonomiese probleme. Sy sê dis noodsaaklik om momentum te behou in hervormingsvennootskappe, en voorkeure na te kom terwyl die verkiesing-seisoen ontvou.
# Sekunjalo Investment Holdings het kennis gegee van sy voorneme om president Cyril Ramaphosa, die Presidensie, die minister van Finansies, die Nasionale Tesourie, die minister van Justisie en Korrektiewe Dienste en die staatsprokureur te dagvaar. Hy sê die hofsake spruit uit ʼn lang tydperk van sabotasie. Hy beweer elemente in die Suid-Afrikaanse staat was korrup en is gebruik om Sekunjalo se uitvoerende voorsitter, Iqbal Survé, en maatskappye wat met die groep verbind word, doelbewus te ondermyn en te benadeel. Sekunjalo eis skadevergoeding van 75-miljard-rand.
# Tien Wes-Kaapse skole ondervind ʼn groot vraag en beleef ʼn groot toename in aansoeke vir graad agt. Dit word hoofsaaklik toegeskryf aan sterk matriekuitslae, skole se ligging en buitemuurse aanbod. Volgens die departement is Claremont High heel voor met meer as vier-duisend aansoeke vir 103 plekke en kort op sy hakke in die tweede plek, Spine Road in Mitchells Plain. ʼn Woordvoerder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, Bronagh Hammond, bevestig hulle is hierdie week aktief besig om twee-duisend-636 graad een- en graad 8-leerders te plaas:
# Oudpresident Donald Trump van Amerika het sy beloftes herhaal oor wat hy in ʼn tweede termyn sal doen. Dit sluit in die sluiting van grense en volle vrywaring aan polisiebeamptes. Hy het ʼn weghol-oorwinning in die Iowa-koukusse behaal en sy status as voorloper vir die Republikeinse benoeming as presidentskandidaat bevestig. Ron DeSantis het Nikki Haley geklop en is tweede. Trump het in sy oorwinningstoespraak aan ondersteuners gesê hy wil die wêreld se probleme uitstryk:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Iga Swiatek, is deur na die tweede ronde van die Australiese Ope. Die Pool het die 2020-kampioen, Sofia Kenin van Amerika, geklop. Swiatek het 17 agtereenvolgende wedstryde gewen wat die meeste is sedert sy in 2022 met 37 agtereenvolgende seges in die WTA-toernooi gespog het. Sy kom nou teen die Amerikaner, Danielle Collins, te staan wat die 2016-kampioen, Angelique Kerber, verslaan het. In die mansafdeling het Grigor Dimitrov van Bulgarye die Hongaar, Márton Fucsovics, met 4-6, 6-3, 7-6 en 6-2 geklop om die tweede ronde te haal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-710-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-50-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….