Nuus 11:00
BULLETIN 16 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die staat probeer om meer as 28-miljoen-rand se regskoste van Zuma te verhaal
# ‘n Tweede vermiste vliegtuig word in KwaZulu-Natal gevind
# En Trump sê Indië se eerste minister het ingestem om nie meer Russiese olie te koop nie
# Die Hooggeregshof in Pretoria hoor vandag ‘n aansoek van die Presidensie en die staatsadvokaat aan om 28-miljoen-rand se regskoste in sy persoonlike hoedanigheid van oudpresident Jacob Zuma te verhaal. Die Appèlhof het in 2021 beslis Zuma is nie geregtig op voortgesette staatsbefondsing vir sy korrupsiesaak nie. Die staat het verlede jaar met ʼn regsgeding begin om die geld terug te kry. Zuma sê hy sal nie die geld kan terugbetaal nie, selfs as sy presidensiële pensioen aan die staat verbeurd verklaar word.
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Polisie het polisie-bestuur van blatante minagting beskuldig. Dit volg nadat die waarnemende minister, Firoz Kachalia, en nasionale kommissaris Fannie Masemola nie ‘n belangrike vergadering bygewoon het nie. Verskeie parlementslede het toekomstige dagvaardings voorgestel om bywoning en verantwoordbaarheid af te dwing. Die komitee se voorsitter, Ian Cameron, sê lede is moeg om geïgnoreer te word terwyl die polisie ernstige interne krisisse beleef:
# KwaZulu-Natal se Departement van Vervoer en Menslike Nedersettings het bevestig dat ‘n tweede vermiste vliegtuig gevind is ná ‘n soektog suid van Boston. Die vlieënier is dood. Die eerste vliegtuig is gister opgespoor, en die vlieënier is ook dood gevind. Die twee vliegtuie het naby Nottinghamweg in die Middellande vermis geraak. Die departement se woordvoerder, Ndabezinhle Sibiya, sê die Ongelukke- en Voorvalle-ondersoekafdeling het met ‘n ondersoek begin:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, sê die Indiese eerste minister, Narendra Modi, het hom verseker sy land sal ophou om olie by Rusland te koop. Olie en gas is Rusland se grootste uitvoerprodukte en Indië, China en Turkye van sy grootse kopers. Die Trump-administrasie het tariewe van 50-persent op Indiese goedere ingestel wat hy beskryf as ʼn strafmaatreël omdat Delhi Russiese olie en wapens koop. Trump beskryf Modi se besluit as ʼn belangrike stap om Moskou ekonomies te isoleer:
# Sokker: Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis het ʼn groep van 25 spelers aangekondig vir Woensdag se Afrikabeker-kwalifiseerder teen die Demokratiese Republiek die Kongo. Die tweede wedstryd vind op 28 Oktober in Johannesburg plaas. Thembi Kgatlana, wat in April laas vir die nasionale span gespeel het, is ook in die groep. Ellis het sewe spelers ingesluit wat oorsee gebaseer is. Die toernooi vind volgende jaar die tweede keer binne twee jaar in Marokko plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-33 sent teen die dollar, 20-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-24 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-506 dollar. Die prys van goud is vier-duisend-228-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-22-per-vat.
Bly ingeskakel vir mer nuus……………….