Nuus 11:00
BULLETIN 12 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Limpopo polisie-kommissaris veroordeel korrupsie deur SAPD-lede in die provinsie
# Hulpgroepe verskerp noodleniging in Gaza
# En krieket: Pakistan wen die loot en besluit om te kolf in die eerste toets teen die Proteas
# Die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, Thembi Hadebe, het die gedrag van vier SAPD-lede in die provinsie sterk veroordeel, nadat hulle in hegtenis geneem is vir ‘n beweerde huisroof. Polisiewoordvoerder Hlulani Mashaba sê hulle is saam met ‘n burgerlike in Lydenburg, Mpumalanga, aangekeer. Die voorval het Donderdagaand in Mashishing plaasgevind. Hy sê die slagoffers, almal Ethiopiese burgers, het geslaap toe hulle deur die verdagtes verras is:
# Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party het wat hy noem militêre aggressie deur die Verenigde State teen Venezuela veroordeel. Dit volg na verskeie militêre aanvalle op beweerde dwelmbote naby Venezuela deur die Amerikaanse weermag. Pius Vilakati van die SAKP sê die aanvalle is ‘n duidelike skending van internasionale reg en ‘n oorlogsdaad wat Venezuela se vrede en veiligheid bedreig:
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, moedig Afrika-leiers aan om openbare hospitale in hul lande te versterk en daarin te belê. Motsoaledi het gepraat tydens die jaarlikse Kgalema Motlanthe-stigting Drakensberg Groeiforum vir 2025. Motsoaledi het verlede maand suksesvolle oogoperasies ondergaan, gelei deur ‘n span hoofsaaklik jong mediese personeel by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg se St John-oogkliniek. Die minister sê Afrika is die enigste vasteland waar die leiers mediese dienste in die buiteland gaan soek:
# Die Departement van Water en Sanitasie het sy vloedgereedheid en waterbestuurstelsels versterk om behoorlik voor te berei vir die komende reënseisoen. Die departement se waarnemende woordvoerder, Sanku Tsunke, sê die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel bogemiddelde reënval tussen Oktober vanjaar en Januarie 2026 oor die sentrale binneland en oostelike kusstreke:
# Die Britse eerste minister Keir Starmer sal Maandag by die Amerikaanse president Donald Trump aansluit vir ‘n internasionale vredesberaad in Egipte waar die wapenstilstandsplan vir Gaza onderteken sal word. Starmer is een van 20 ander wêreldleiers wat in in Sharm El-Sheikh sal wees om vrede en stabiliteit in die Midde-Ooste te bespreek. Hulpgroepe in Gaza het intussen noodlenigingspogings verskerp met toue vragmotors wat die gebied vanoggend deur die Rafah-kruising binnegaan. Hamas het tot Maandagmiddag 12-uur om alle Israeliese gyselaars vry te laat, terwyl Israel na verwagting een-duisend-700 aangehoudenes uit Gaza en ongeveer 250 Palestynse gevangenes sal vrylaat.
# En ten slotte, krieket: Pakistan se kaptein, Shan Masood, het die loot gewen en besluit om eerste te kolf in die eerste van twee toetse teen Suid-Afrika op die Gaddafi-stadion in Lahore vandag. Die tuisspan het drie spesialis-draaiboulers en twee naatboulers op ‘n droë en gekraakte kolfblad ingesluit. Die Proteas het dieselfde gedoen met die insluiting van Senuran Muthusamy, Prenelan Subrayen en Simon Harmer. Kagiso Rabada en Wiaan Mulder is die naatboul-opsies. In ‘n verrassende skuif het Suid-Afrika die kolwer David Bedingham uitgelaat en hom vervang met die jong Dewald Brevis.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….