Nuus 11:00
BULLETIN 9 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA kritiseer die paneel vir die kies van die nuwe Direkteur van Openbare Vervolging
# Die Hugenote-tonnel word weer oopgestel na noodherstelwerk
# En Trump eis tronkstraf vir Chicago se burgemeester en Illinois se goewerneur
# Die DA het kommer uitgespreek oor die samestelling van die paneel wat benoemings doen vir die nuwe Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging. President Cyril Ramaphosa het die paneel aangestel en die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sal dit lei. Die huidige direkteur, Shamila Batohi, se termyn eindig in Januarie. Glynnis Breytenbach van die DA sê daar is absoluut geen kenners van strafreg op die paneel nie. Sy sê die meeste paneellede se fokus is menseregte en staatsbestuur.
# Die adjunkminister van Elektrisiteit en Energie, Samantha Graham-Maré, sê die hernubare energiebedryf bied ‘n deurslaggewende geleentheid vir Afrikalande om hul enorme hulpbronne te benut om te herindustrialiseer en waardige werksgeleenthede te skep. Die vasteland besit 60-persent van die wêreld se beste sonkragbronne, reuse-windpotensiaal en baie van die noodsaaklike minerale wat die wêreld se skoon energie-ekonomie ondersteun. Graham-Maré sê gesamentlike ontwikkeling van tegnologie, die vermindering van risiko’s in beleggingskapitaal en openbare-privaat-vennootskappe is ook die sleutel tot Afrika se herindustrialisering van hernubare energie:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap het bevestig die Hugenote-tonnel op die N1 in die Wes-Kaap is weer oop. Dit volg na noodsaaklike herstelwerk en ‘n omvattende veiligheidsevaluering nadat ‘n bus Vrydagaand in die tonnel aan die brand geraak het. Antoinette Fennie van die Wes-Kaapse department van Beweeglikheid sê die tonnel is nou weer in bedryf, maar verdere herstelwerk sal in die komende maande voortgaan. Sy sê die meeste werk sal in die nag gedoen word om die minste ontwrigting vir motoriste te veroorsaak:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, eis tronkstraf vir die burgemeester van Chicago, Brandon Johnson, en die goewerneur van Illinois, JB Pritzker. Hy beskuldig hulle dat hulle misluk het om federale immigrasie-beamptes te beskerm. Die land se derde-grootste stad het die jongste brandpunt in die Trump-administrasie se uitsettings-en teenmisdaadveldtog geword in stede waar Demokrate aan bewind is. ‘n Hofaansoek is Maandag ingedien om die ontplooiing te keer en die verhoor begin vandag. Pritzker sê Weermaglede behoort nie teen gemeenskappe gebruik te word nie:
# Krieket: Die Engelse kolwer Joe Root hou vol hulle kan hul tienjaar-lange As-droogte beëindig en dit uiteindelik weer huis toe bring na hul toer in Australië later vanjaar. Engeland het die As laas in 2015 gewen en hul laaste oorwinning in ‘n toetsreeks in Australië was in die 2010/11-seisoen. Die twee spanne het die mees onlangse reeks in Engeland 2-elk gedeel en Australië het die laaste drie toere tuis onderskeidelik 4-0, 4-0 en 5-0 gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 22-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-914-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-30-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….