Nuus 11:00
BULLETIN 7 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership SA sê Suid-Afrika moet alternatiewe handelsbetrekkinge ontwikkel
# SKOOR se ondersoek na die Padongelukkefonds begin
# En rugby: Die Stormers verloor nog ‘n Bok-stut, maar drie Bokke keer terug van internasionale diens
# Business Leadership SA sê die regering moet deur BRICS en die Afrika-vryhandelsooreenkoms met mening alternatiewe handelsvennootskappe vind en bou. Dit volg op die verstryking van die Amerikaanse voorkeurhandelsraamwerk, Agoa, op 30 September. Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê hy vertrou ‘n hernuwing is op hande. Suid-Afrika was verantwoordelik vir 54-persent van alle Agoa-uitvoere na Amerika. BLSA se uitvoerende hoof, Busiswe Mavuso, sê ‘n versnelde hervormingsagenda kan die negatiewe gevolge van Agoa se einde verminder.
# Die parlementêre staande komitee oor Openbare Rekeninge begin vandag met sy ondersoek na die Padongelukkefonds se finansiële sake. Die voorsitter, Songezo Zibi, sê die ondersoek sal onbetaalde eise, verkwistende uitgawes, korrupsiebewerings en onreëlmatige verkryging ondersoek. Die ondersoek volg ná maande van onbetroubare of verlore inligting. Zibi het bevestig die ondersoek sal tot middel volgende maand duur, met ‘n finale verslag wat na verwagting teen Desember voor die Nasionale Vergadering ter tafel gelê sal word:
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, het beloof om ontslae te raak van spookwerkers in die Ditsobotla plaaslike munisipaliteit in Noordwes. Hlabisa sê diegene wat op bedrieglike wyse salarisse ontvang, sal vervolg word. Hy sê die span wat ontplooi is, het ‘n duidelike mandaat ontvang om Ditsobotla reg te ruk en die bedrogspul vir eens en vir altyd te beëindig. Hlabisa waarsku amptenare wat hierdie soort betalings magtig sal die gevolge dra:
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, sê ‘n permanente wapenstilstand in Gaza en ‘n geloofwaardige politieke proses is noodsaaklik om verdere bloedvergieting te voorkom en die weg na vrede te baan. Vandag is die tweede herdenking van die Hamas-geleide terreuraanvalle op die suide van Israel, wat een-duisend-200 mense dood gelaat het, terwyl 251 gyselaar geneem is. Daar word beraam dat 48 gyselaars steeds gevange gehou word. Israel het daarna militêre operasies in Gaza van stapel gestuur, wat tot dusver gelei het tot die dood van meer as 67-duisend Palestyne. Guterres sê na twee jaar van trauma moet partye hoop kies.
# Rugby: Die Stormers sal vir die afsienbare toekoms sonder hulle Springbokvaskopstut, Neethling Fouché, moet klaarkom nadat hy sy arm gebreek het in Vrydag se Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Ospreys in Kaapstad. Nog ‘n Bokstut, Frans Malherbe, sukkel met ‘n rugbesering. Afrigter John Dobson sê die goeie nuus is dat die Bok-agterspelers Sacha Feinberg-Mngomezulu, Damian de Allende en Cobus Reinach binnekort by hulle sal aansluit na hulle oorwinning in die Rugbykampioenskap. Die Stormers is tans tweede op die punteleer na die Bulle.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-22 sent teen die dollar, 20-rand-11-sent teen die euro en 23-rand-14 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 124-duisend-34 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-954 dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-52-per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….