Nuus 11:00
BULLETIN 10 Julie 11 vm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party besnoei uitgawes te midde van beweerde finansiële probleme
# Talle van Spar se jogurt-produkte word herroep
# En rugby: Rassie Erasmus gaan die rekord verbeter vir Springbok-afrigting
# Die MK-party is volgens berigte onder ernstige finansiële druk en het in aanloop tot die munisipale verkiesing alle reistoelaes vir leiers opgeskort. Volgens News24 het interne kommunikasie tussen partyleier Jacob Zuma en die nuwe tesourier-generaal, Brian Molefe, alle nasionale beamptes, ligas, en erkende strukture in kennis gestel dat alle verblyf, gehuurde motors en vergaderplekke wat die party moet betaal, tot 26 Julie gevries is. Molefe sê die fokus is op skuldbestuur, verfyning van die begroting en versekering dat die party finansieel lewensvatbaar bly.
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het ‘n dringende landwye waarskuwing uitgereik nadat SPAR talle jogurtprodukte van rakke verwyder het. Dit raak SPAR se vetvrye jogurt, laevet-jogurt, dubbelroom-jogurt, Indulge-dubbelroomjogurt en SPAR Active Drinking Yoghurt. Die produkte het ʼn verkoop-teen-datum van 9 Augustus 2026 en gebruik-teen-datum van 12 Augustus. Die kommissie se woordvoerder, Phetho Ntaba, sê ʼn masjien was foutief tydens produksie:
# Die stadsraad van die Stad Tshwane gaan tugstappe doen teen die geskorste hoof van finansies, Gareth Mnisi. Die Madlanga-kommissie het bevind hy het met ander senior beamptes van die metro saamgespan om die toekenning van tenders te manipuleer. Hy het na bewering sy posisie gebruik om tenders aan voorleggers van sy keuse toe te staan. Die burgemeester se woordvoerder, Samkelo Mgobozi, sê Mnisi se skorsing sal opgehef word terwyl tugprosedures voortgaan:
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies is bekommerd oor Rusland se toenemende hommeltuig- en missielaanvalle op Oekraïnse burgerlikes. Verlede maand is minstens 265 burgerlikes dood en een-duisend-816 beseer – die hoogste gekombineerde ongevalle-syfer sedert kort ná Moskou se volskaalse inval in Februarie 2022. Oekraïne het ook sy aanvalle op Rusland verskerp en gekonsentreer op olieraffinaderye. Die VN se hoof van politieke sake, Rosemary DiCarlo, sê aanvalle op burgerlikes en burgerlike infrastruktuur is ʼn oortreding van internasionale menseregte-wette:
# Rugby: Rassie Erasmus gaan môre geskiedenis maak met ‘n rekord van 55 toetse as afrigter van die Springbokke wanneer hulle op Loftus Versfeld in Pretoria teen Skotland speel in die Nasieskampioenskap. Dit is die meeste vir ‘n Bok-breier sedert Suid-Afrika se eerste toets in 1891. Erasmus het dit bereik in twee tydperke – van 2018 tot 2019, en weer van 2024 tot nou. Sy wenrekord is tans 75,93-persent in 54 wedstryde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-29-sent teen die dollar, 18-rand-63-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-766-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-111-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 76-dollar per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….