Nuus 11:00
BULLETIN 15 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens open ‘n strafregtelike saak teen die Phala Phala-buffelkoper Hazim Mustafa
# Busisiwe Mkhwebane dreig met regsoptrede om haar pensioenuitbetaling van tien-miljoen-rand te kry
# En Krieket Suid-Afrika sê hy straf David Teeger nie omdat hy Joods is nie
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het ‘n strafregtelike saak teen die Soedannese sakeman Hazim Mustafa aanhangig gemaak. Hy het in Desember 2019 20 buffels vir 10,82-miljoen-rand kontant gekoop op president Cyril Ramaphosa se plaas in Limpopo, Phala Phala. Ramaphosa het gesê dit was Mustafa se geld wat in Februarie 2020 op sy plaas gesteel is. Volgens News24 berus die saak op ʼn dokument, vermoedelik ʼn afskrif van die verklaring van buitelandse valuta, wat Mustafa aan die polisie en Inkomstediens gegee het. Die vermoede bestaan dat die dokument vals is.
# Die gewese Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, het haar regspan opdrag gegee om met hofstappe te begin teen haar opvolger, Kholeka Gcaleka, en die Parlement. Dis ʼn poging om haar pensioenuitbetaling te kry, wat vermoedelik tien-miljoen-rand beloop. Sy is uit haar amp verwyder nadat die Parlement ten gunste van die Artikel 194-ondersoek gestem het. President Cyril Ramaphosa het haar in Oktober afgedank, wat sy verloor die vergoeding waarop sy kon aanspraak maak indien sy haar termyn voltooi het. Mkhwebane het aan Newzroom Afrika gesê haar regte is geskend:
# Die EFF in Tshwane sê die DA se voorstel vir ‘n amp van onderburgemeester in die metro sal geen doel dien behalwe om die belastingbetalers se geld te mors nie. Die burgemeester, Cilliers Brink, het verlede jaar versoek dat ‘n onderburgemeester aangestel word om bestendigheid in die veelpartyregering te skep. Die amp is aan ActionSA toegewys, wat vandag sy benoeming sal aankondig. Die EFF sê hy glo die voorstel is niks anders as ‘n politieke set deur die DA om hul opposisievennoot ActionSA te paai nie
# ʼn Dosent aan die Universiteit van Suid-Afrika, Mametlwe Sebei, sê Suid-Afrika se regspan het ʼn oortuigende saak gestel toe hy Israel in die Internasionale Geregshof van volksmoord beskuldig het. Suid-Afrika het aangevoer Israel se militêre aanslag op Gaza oortree die Volksmoordkonvensie van 1948. Israel ontken dit. Sebei sê Suid-Afrika se saak is gegrond op feite en die beginsels van internasionale humanitêre wette:
# Krieket: Krieket Suid-Afrika sê hy straf David Teeger nie omdat hy Joods is nie, maar om hom te beskerm. Die Palestyne Solidariteits-alliansie het hom aangegee oor opmerkings wat hy in Oktober verlede jaar by die toekennings vir Joodse uitblinkers gemaak het. Hy is verlede Vrydag van sy kapteinskap gestroop, hoewel sy opmerkings tot ʼn onafhanklike ondersoek gelei het wat bevind het hy het geen oortreding begaan nie. Teeger bly lid van die Onder 19-Wêreldbekerspan, maar die Wes-Kaapse speler, Juan James, het die kapteinskap oorgeneem. KSA se raadsvoorsitter sê hulle wil hê die Wêreldbekertoernooi moet sonder ontwrigting voortgaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-627-dollar-73-sent. Die prys van goud is twee-duisend-54-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….