Nuus 11:00
BULLETIN 19 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa onderneem om op te tree oor die Madlanga-kommissie se aanbevelings
# Die National Coloured Congress-LP Fadiel Adams ontken Mkhwanazi se bewerings teen hom
# OUTA nader die hof om Sanral se e-tol-skuldeise te beëindig
# President Cyril Ramaphosa het hom verbind om op te tree wanneer die Madlanga-kommissie se bevindings bekendgemaak word. Die kommissie wat bewerings van misdadigheid, politieke inmenging en korrupsie in die regstelsel moet ondersoek, het Woensdag begin. Die tussentydse verslae sal na verwagting binne drie tot ses maande beskikbaar wees. Ramaphosa het aan die SABC gesê van die dinge wat reeds uitgekom is, is skokkend en kommerwekkend:
# In aansluiting hierby, het die National Coloured Congress se stigter en parlementslid, Fadiel Adams, het die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se bewerings teen hom ten sterkste ontken. Mkhwanazi het Adams gister in sy getuienis voor die Madlanga-kommissie beskuldig dat hy ongemagtigde toegang tot sensitiewe inligting verkry en dit gebruik het om sonder die nodige oorsig strafregtelike sake teen Misdaadintelligensie aanhangig te maak. Adams sê die inligting is ongevraagd aan hom oorhandig. Hy sê hy het gedoen wat elke burger sou doen as hy bewyse van vermeende staatskorrupsie ontvang: Hy het ‘n saak geopen.
# Die organisasie teen belastingmisbruik het regstappe ingestel om die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap se e-tol-skuldinvordering te beëindig. OUTA vra die Hooggeregshof in Pretoria om te beslis dat meer as twee-duisend e-tol-eise geskrap moet word na die opskorting van invorderings in 2019. Sanral het ’n kennisgewing ingedien om die aansoek teen te staan, maar geen hofdatum is nog bepaal nie. Stefanie Fick van OUTA sê die organisasie sal ook probeer om hulle regskoste te herwin:
# Amerika het vir die sesde keer in die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad ‘n voorstel geveto wat ‘n onmiddellike en permanente skietstilstand in Gaza en die vrylaat van krygsgevangenes wat Hamas aanhou, eis. Al 14 van die ander lede van die VN se magtigste liggaam het ten gunste van die voorstel gestem. Dit beskryf die humanitêre toestand in Gaza as katastrofies. Die Amerikaanse diplomaat Morgan Ortagus sê die voorstel was bevooroordeeld teen Israel en ten gunste van Hamas:
# Sokker: FIFA het ‘n amptelike disiplinêre ondersoek begin teen die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging en Bafana Bafana se middelveldspeler, Teboho Mokoena. Hy het tydens ‘n skorsing gespeel in Suid-Afrika se Wêreldbeker kwalifiseringswedstryd teen Lesotho in Maart wat Suid-Afrika 2–0 gewen het. SAFA is amptelik in kennis gestel van die ondersoek, met die oorwinning wat nou in gedrang is. As Bafana skuldig bevind word verbeur hulle die wedstryd 3-0, kan beboet word, en verloor die eerste plek in Groep C. Dit beteken Suid-Afrika moet oorwinnings oor Zimbabwe en Rwanda behaal om vir volgende jaar se toernooi in Noord-Amerika te kwalifiseer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-861-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-649-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….