Nuus 11:00
BULLETIN 17 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die ontbondeling van Eskom is noodsaaklik om die mynbousektor te red
# ‘n Beroep word gedoen om die fluitjieblasers te beskerm wat voor die Madlanga-kommissie getuig
# En krieket: Afganistan se uitgeweke vrouespelers gaan in Indië toer tydens die Wêreldbekertoernooi
# Die DA sê Eskom moet dringend ontbondel word om die mynsektor te red. Die party waarsku elektrisiteitspryse wat die hoogtes inskiet en sedert 2007 met meer as 800-persent gestyg het, verlam mynbou en veroorsaak die sluiting van ferrochroom smelters, met Glencore wat al 22 sy hoogoonde sluit. Kevin Mileham van die DA sê hoewel Suid-Afrika die meeste chroomreserwes in die wêreld het, het die land veld verloor teen China as gevolg van Suid-Afrika se elektrisiteitpryse wat byna 50-persent hoër is:
# Die nie-regeringsorganisasie Whistleblower House sê die Madlanga-kommissie moet seker maak fluitjieblasers word beskerm. Die kommissie, wat bewerings van misdadigheid, politieke inmengery en korrupsie in die regstelsel moet ondersoek, begin vandag. KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, sal eerste getuig. Ben Theron van Whistleblower House het aan eNCA gesê indien fluitjieblasers beskerm word, sal straffeloosheid verminder en aanspreeklikheid vanselfsprekend wees:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Ivan Meyer, sê die landbousektor se veerkragtigheid en groei is ‘n bewys van die harde werk van boere, landbouwerkers en landbouverwerkers. Die sektor het ‘n uitstekende prestasie gelewer in die tweede kwartaal, met ‘n styging van 14-persent op ‘n jaargrondslag. Dit is volgens die Landbou-ekonomiese Kwartaalverslag. Meyer sê die verslag toon ook dat landbou en landbouverwerking 302-duisend-604 werksgeleenthede in die provinsie onderhou het:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, is op sy tweede staatsbesoek aan die Verenigde Koninkryk waar hy koning Charles en eerste minister Keir Starmer sal ontmoet. Dit kom te midde van kritiek op Trump se beleid en uitsprake, met die Stop Trump-koalisie wat gister betoog het. Starmer sal probeer om ‘n ooreenkoms te sluit waarvolgens Brittanje uitgesluit word van Amerikaanse tariewe op staal en aluminium. Trump sal tyd saam met die koninklike familie deurbring by Windsor-kasteel. Môre beraadslaag hy met Starmer by die eerste minister se plattelandse wegbreekplek, Chequers.
# Krieket: Afganistan se uitgeweke vrouespelers sal tydens die eendag-Wêreldbekertoernooi in Indië toer, waar hulle teen plaaslike spanne sal speel. Die meeste van die spelers het na Australië gevlug toe die Taliban-regime in 2021 teruggekeer en vroue en mesies verbied het om aan sport deel te neem, onderwys te ontvang en te werk. Die span sal ook uitgenooi word om van die Wêreldbekerwedstryde by te woon. Afgaanse vroue het in Januarie in Melbourne gespeel in ‘n geskiedkundige vertoonwedstryd teen ‘n elftal van “Krieket-sonder-grense”.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-113-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-673-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 67-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….