Nuus 11:00
BULLETIN 16 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Forum eis die deklassifisering van die hoogs-geheime Phala Phala-verslag
# Die DA vra die regterlike dienskommissie om ’n regter te ondersoek na omkoop-bewerings
# En Trump maak ‘n lastersaak aanhangig teen New York Times
# Die Activists and Citizens Forum vra die Madlanga-kommissie en die Parlementêre ad hoc-komitee om die hoogs-geheime Phala Phala-verslag te deklassifiseer. Miljoene rand in buitelandse valuta is in 2020 op president Cyril Ramaphosa se wildsplaas in Limpopo gesteel. Die forum voer aan die klassifisering is ‘n poging om die waarheid te verdoesel en die ondersoek te politiseer. Woordvoerder Dennis Bloem dring daarop aan dat Ramaphosa, soos enige burger, ingevolge die Grondwet aanspreeklik gehou moet word:
# Die DA vra die regterlike dienskommissie om dringend aandag te gee aan klagtes van omkopery teen ‘n regter van die Hooggeregshof in Johannesburg. ‘n Sakeman en prokureur van Heidelberg, Bouwe Wiersma, het ‘n formele klagte ingedien. Hy beweer ‘n regter het aanvanklik sewe-duisend-rand versoek om verlof tot appèl toe te staan teen ‘n uitsettingsbevel. Dit is later verminder tot vyf-duisend-rand, wat Wiersma sê hy betaal het. DA-woordvoerder Glynnis Breytenbach sê ‘n mafia-staat word onder andere gekenmerk deur ‘n gekaapte regbank:
# Die Vryheidsfront Plus in Gauteng sê die ANC en sy koalisievennote moet die skuld kry vir Johannesburg se toenemende waterkrisis. Dele van die metro sukkel steeds met watervoorsiening en reservoirs wat misluk, met die reservoir in Alexandra wat die hardste getref is. Franco de Lange van die VF Plus sê swak beplanning, agterstallige instandhouding en finansiële wanbestuur laat huishoudings en ondernemings weke lank sonder water. Hy sê die metro moet dringend ‘n oudit van sy infrastruktuur doen, voorkeur gee aan instandhouding en waterstelsels opgradeer.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het ‘n lastersaak teen New York Times aanhangig gemaak en eis skadevergoeding van sowat 260-miljard-rand van die media-organisasie. Hy beskuldig die Times dat hy vals aantygings teen hom, sy familie en sy sakeondernemings gemaak het en ʼn virtuele spreekbuis vir die Demokratiese Party is. Trump het die Times se ondersteuning aan die gewese visepresident, Kamala Harris, in 2024 se presidentsverkiesing uitgesonder. Die hofsaak is die jongste in ʼn reeks hoëprofielsake wat Trump teen groot media-organisasies aanhangig gemaak het.
# Krieket: Die Protea-vrouespan se kaptein, Laura Wolvaardt, sê die eendagreeks teen Pakistan is die perfekte voorbereiding vir die komende Wêreldbekertoernooi in Indië en Sri Lanka. Die eerste van drie eendagwedstryde begin vanmiddag in Lahore. Suid-Afrika het ʼn sterk eendagrekord teen Pakistan met 21 oorwinnings uit 28 kragmetings tussen die twee lande. Wolvaardt sê dis ʼn uitstekende geleentheid om in Suid-Asië te speel voor die Wêreldbekertoernooi begin:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-774-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-691-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….