Nuus 11:00
BULLETIN 13 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa moedig Noordwes aan om vennootskappe tussen die openbare en privaat sektor te benut
# Die Gautengse Verkeerspolisie arresteer 43 roekelose bestuurders
# En rugby: Die Springbokke neem wraak
# President Cyril Ramaphosa sê die nasionale uitvoerende gesag het onderneem om met die Noordwes-provinsiale regering saam te werk om ‘n oplossing te vind vir die munisipaliteite se uitdagings. Ramaphosa het ‘n vergadering met die provinsiale uitvoerende gesag afgesluit wat daarop gemik was om interregeringskoördinering en dienslewering te verbeter volgens die vertrekpunte van die 7de Administrasie. Die president het die provinsie aangemoedig om vennootskappe tussen die openbare en privaat sektor te benut ter bevordering van ontwikkeling in die provinsie:
# Die DA in die Wes-Kaap sê hy het ‘n memorandum wat deur al sy burgemeesters in die provinsie onderteken is, aan die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, en die minister van Justisie, Mmamoloko Kubayi, oorhandig. Die party sê munisipaliteite wat daartoe in staat is moet bemagtig word om hul gemeenskappe te beveilig. Tertuis Simmers van die DA sê veral hierdie week was daar ‘n dodelike toename in geweld en hulle betoon medelye met die families en gemeenskappe wat geraak word:
# Gautengse Verkeersbeamptes het hierdie week 43 motoriste in hegtenis geneem vir roekelose en nalatige bestuur op provinsiale snelweë. Oortreders, tussen 21- en 44-jaar oud, is gevang waar hulle tussen 148- en 188-kilometer per uur gejaag het. In een voorval is ‘n 37-jarige BMW-bestuurder teen 188-kilometer per uur op die N4 aangekeer. Die polisiewoordvoerder, Sello Maremane, waarsku dat wetteloosheid sal nie geduld word nie, veral omdat spoed steeds ‘n hoofoorsaak van padsterftes is:
# Nepal se voormalige hoofregter van die Hooggeregshof, Sushila Karki, het die land se tussentydse eerste minister geword nadat gewelddadige teen-korrupsie-betogings die regering uit die kussings gelig het. Die 73-jarige Karki is tydens ‘n kort seremonie ingehuldig en het die eerste vrou geword om die verarmde Himalaja-nasie te lei nadat ‘n ooreenkoms met die leiers van die betogers bereik is. Karki sal binne ‘n paar dae haar kabinet aanstel. Sy word wyd beskou as ‘n persoon met ‘n skoon beeld en word ondersteun deur studenteleiers van die sogenaamde “Gen Z” om die tussentydse regering te lei.
# En om af te sluit sportnuus:
# Atletiek: Die silwermedaljewenner in die 200-meter op 2023 se wêreldkampioenskap, die Amerikaner Erriyon Knighton, is vir vier-jaar geskors vir opkikkergebruik. Die 21-jarige is in Mei verlede jaar aangekla nadat hy buite kompetisie positief getoets het vir ‘n verbode anaboliese steroïed. Die Amerikaanse Agentskap teen Opkikkergebruik wou hom straf, maar ‘n arbitrasie-tribunaal het bevind dat hy geen skuld dra of nalatig was nie. Die Hof vir Arbitrasie in Sport het nou Wêreldatletiek en die Wêreldagentskap teen die Gebruik van Verbode Middels se appèlaansoek gehandhaaf.
# En rugby: ‘n Baie verbeterde Springbok-span werk hard om hul reputasie te herstel na verlede week se treurige vertoning teen hul aartsvyande, die All Blacks. Die All Blacks loop teen rustyd met 10-7 voor in Wellington, met beide spanne wat ‘n drie gedruk het. Cheslin Kolbe het die Suid-Afrikaanse ondersteuners in die stadion op hul voete gehad toe hy onderskep en 75 meter hardloop het vir sy eerste drie. Hy het binne die eerste paar minute van die tweede helfte nog ‘n drie gedruk om die telling 17-10 in die Bokke se guns te maak. Grant Williams het ‘n derde drie gedruk om die Bokke selfs verder voor te sit met 24-10.
[Bly by Bulletin om binnekort die eindtelling te sien.]
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….