Nuus 11:00
BULLETIN 9 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die stryd teen korrupsie is ingewikkeld en veelvlakkig
# Die DA sê ‘n kuberkommissaris is nodig om Suid-Afrikaners teen KI-bankslenters te beskerm
# En Suid-Afrika se superster, Tyla, wen nog ‘n MTV-musiektoekenning
# President Cyril Ramaphosa sê die stryd teen korrupsie is ingewikkeld, veelvlakkig en volgehoue, en vereis die aftakeling van stelsels van patronaatskap wat oor baie jare gevestig is. Ramaphosa het meer as ‘n week gelede die finale verslag van die Nasionale Teenkorrupsie-adviesraad ontvang. Daarin word onder meer aanbeveel dat ‘n permanente, onafhanklike, oorkoepelende teen-korrupsieliggaam gestig word. Hy sê in sy weeklikse nuusbrief die regering moet, luidens die verslag instellings hervorm om oplossings te vind vir tekortkomings in gebruike en stelsels wat dit moontlik maak dat korrupsie floreer.
Die DA vra intussen die regering om ʼn kuber-kommissaris aan te stel terwyl kunsmatige-intelligensie-gedrewe slenters en digitale bankbedrog toeneem. Volgens die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum het die aantal digitale bankbedrogsake tussen 2023 en verlede jaar verdubbel, met finansiële verliese wat van een-miljard- tot 1,4-miljard-rand toegeneem het. Glynnis Breytenbach van die DA sê Suid-Afrikaners verdien veiliger digitale ruimtes en beter beskerming teen kubermisdaad:
# Die Activists and Citizens Forum sê die moorde in die Wes-Kaap, veral in Kaapstad, benodig dringende en drastiese ingryping om die lewens van onskuldige mense in bendegeteisterde gebiede te red. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, sê Suid-Afrikaners hoor amper elke week van massamoorde in townships in Kaapstad. Hy sê die regering moet dit oorweeg om ‘n noodtoestand af te kondig teen bendegeweld in Wes-Kaapse gemeenskappe:
# Gholf: Die tweede beste speler in die wêreld, Rory McIlroy, het die Ierse Ope die tweede keer ingepalm in ‘n dramatiese uitspeelstryd teen Joakim Lagergren van Swede. Die Ier het saam met Lagergren op 17-onder-baansyfer geëndig en die uitspeelstryd toe op die derde bykomende putjie gewen. Dit was sy eerste oorwinning sedert April toe hy sy loopbaan-Grand Slam in die Meesters behaal het. Angel Hidalgo van Spanje en sy landgenoot Rafa Cabrera Bello was gesamentlik derde. McIlroy sê om tuis te wen, is baie spesiaal:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-55 sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-71 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-179 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-599 dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-47-sent per vat.
# En ter afsluiting: Die Suid-Afrikaanse popster Tyla het nog ʼn MTV Video-musiektoekenning ontvang op ʼn seremonie in New York. Sy het die Afrobeats-kategorie gewen vir haar treffer-enkelsnit, PUSH 2 START. Die 23-jarige sangeres het dieselfde toekenning verlede jaar vir haar treffer, Water, gewen. Lady Gaga het met vier toekennings weggestap, insluitend kunstenaar van die jaar en beste samewerking met Bruno Mars vir Die With a Smile. Ariana Grande en Sabrina Carpenter spog elkeen met drie toekennings. Mariah Carey het met die Video Vanguard-toekenning weggestap.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….